Skip to content
Menu

Lees Openbaring 11:1-6 <- Klik om nou te lees Teks: vers 3 Omdat ons is wie ons is, getuig ons van bevryding deur die oordeel heen. Ons is wie ons is vanweë goddelike beskikking. Ons het reeds in die reeks beklemtoon dat die kerk nie deur die mens in die lewe geroep is nie, maar deur God. In ons teksgedeelte word beklemtoon dat God ook bepaal wíé die kerk in hierdie wêreld is. Dit blyk dat daar in vers 3 met die “twee getuies” na die kerk verwys word. God “gee” hierdie twee getuies. Die kerk is nie toevallig in die wêreld nie. God plaas die kerk in die wêreld. Hy plaas die kerk as getuies in die wêreld. As die kerk nie getuig nie, is dit nie meer kerk nie – nie Gód se kerk nie. Hy plaas die kerk as twéé getuies in die wêreld. Getuienis in ernstige regsgedinge het in die Ou Testament eers vasgestaan in die mond van twee getuies (vgl. Dt. 19:15). Dit wat die ware kerk getuig, staan vas want God gee die kerk as twee getuies. God gee die twee getuies vir twaalf honderd en sestig dae. Dit is dieselfde tyd (twee en veertig maande) waaroor ons verlede week uit vers 2 gehandel het. Dit is die tyd vanaf Christus se hemelvaart tot by die wederkoms. Nou word dit in dae uitgedruk. Dag vir dag gee die kerk hierdie betroubare getuienis. Dit is wie ons is. Vanweë goddelike beskikking is ons twee getuies wat in die hele tyd van die hemelvaart tot by die wederkoms getuig. Ons is twee getuies soos Moses en Elia Wat getuig die kerk? As ons die woorde “twee getuies” in die konteks van die Ou Testament verstaan, word dit duidelik wat die kerk getuig. Uit verse 5 en 6 kan ons aflei dat die woorde na Moses en Elia verwys en in besonder na die dreigende oordeel wat hulle aangekondig het. Deur Moses se getuienis het Farao iets van God se oordeel gesien toe die water in bloed verander is (vgl. Eks. 7:7:17-25). Deur Elia het God se oordeel waarskuwend duidelik geword toe daar vir jare geen reën geval het nie (vgl. 1 Kon 17). So moet die kerk as God se twee getuies in die nuwe bedeling waarsku vir God se oordeel. Natuurrampe soos waterbesoedeling en droogtes bevestig die getuienis van die kerk. Die waarskuwing van die kerk is nie ‘n ligtelike waarskuwing nie. Soos vuur op Elia se gebed mense verteer het (vgl. 2 Kon.1), so is die kerk se getuienis uiters gevaarlik. Wie hulle nie daaraan steur nie, speel met vuur – die vuur van God se oordeel. Soos die rouklere wat die twee getuies aan het, getuig van berou en bekering, so is die kerk se inherente boodskap ʼn oproep tot berou en bekering. Ons is twee olyfbome en twee kandelaars Daar word egter ook in hierdie gedeelte beklemtoon dat die twee getuies die twee kandelaars is. God stel die kerk as die lig vir hierdie wêreld. Met rouklere aan bring die kerk ʼn Blye Boodskap. Die kerk verkondig dat daar bevryding deur die oordeel heen is. Jesus Christus het deur die vuur van God se oordeel heen gegaan en wie in Hom glo, sal nie deur die oordeel verswelg word nie. Die kerk is egter ook twee olyfbome. Uit Sagaria verstaan ons die beeld beter. Die Olyfbome by die kandelare wys op die werking van die Heilige Gees. Soos kandelaars wat voortdurend van olyfolie voorsien word, sal aanhou brand, sal die ware kerk nooit ophou om getuienis te lewer nie. Die Gees voorsien die olie wat die kerk se getuienis helder in hierdie wêreld sal laat aanhou brand.