Lees Openbaring 11:1-14 en 20:1-10 <- Klik om nou te lees Teks: vers 7 Ons word bemoedig met ʼn uitsig op die eindgebeure op hierdie aarde. God gee nou aan ons ʼn uitsig op eindgebeure op hierdie aarde. Die getuienis klaar gelewer Daar kom ʼn tyd wanneer God nie meer sal toelaat dat die kerk getuig nie (vgl. v. 7a). Aangespoor vanuit die hel sal die kerk met geweld tot swye gebring word en dood verklaar word (7b en 8a). Die gesindheid wat dan op aarde sal heers, is dieselfde as toe die skare geskree het dat Christus gekruisig moet word (vgl. v. 8b). Die lewe van die hulle wat dan in beheer sal wees, kan vergelyk word met ʼn sedelose Sodom en ‘n onderdrukkende Egipte (vgl. 8c). Die ongelowiges van alle volke sal met blydskap kennis neem van die kerk in sy stom- en magteloosheid (vgl. v. 9). Verkorte tyd en hemelvaart Hierdie triomf oor die kerk sal egter van korte duur wees. God verkort die tyd van die ongelowiges se triomf en die tyd van die kerk se onuitspreeklike lyding (vgl. v. 11a). Soos met die skepping, skenk God aan sy kinders lewe (vgl. 11b-c). Alle gelowiges staan op uit die graf en vaar in heerlikheid Christus met sy wederkoms tegemoet (vgl. v.12). Vrees en erkenning Vir hulle wat nie geglo het nie, is die oomblikke wat na hierdie hemelvaart van die gelowiges volg, verskriklik. Eers sien hulle in vrees hoe die gelowiges, wat hulle so gehaat het, opvaar. Saam met die hemelvaart van die gelowiges volg voor die eindoordeel ʼn teken van God se oordeel wanneer daar ʼn groot aardbewing kom en ʼn geweldige getal van die ongelowiges sterf. In hulle vrees moet hulle wat nie in die aardbewing gesterf het nie, dié God wie se kerk hulle vervolg het, erken (vgl. v. 13) God bemoedig ons deur die uitsig op eindgebeure op hierdie aarde. Ons word deur hierdie gebeure: • gelei om te verstaan dat die ware lewe wat ons ontvang het, in vervolging ʼn kragtige getuienis is, • aangespoor om die tyd wat ons het om te verkondig, te gebruik en • nie teen die mag van magshebbers vas te kyk nie, maar God se regering te sien.