Skip to content
Menu

Lees Openbaring 11 <- Klik om nou te lees Teks: vers 19 God gee ons ʼn uitsig op gebeure wat volg nadat hierdie bedeling voltooi is sodat ons tot toegewyde aanbidding sal kom. Inleiding: Verlede week het ons uit verse 7-14 daarop gewys dat God ons bemoedig deur vir ons uitsig te gee op die eindgebeure op hierdie aarde. Uit verse 15-19 wil ons vanoggend wys op gebeure wat volg nadat hierdie bedeling voltooi is. In hierdie verse word ons gelei tot uitsig op God se koningskap, ons dankbaarheid en God se teenwoordigheid. Ons kry uitsig op God se koningskap. Die sewende engel wat op die trompet blaas, kondig die einde van hierdie bedeling aan. Dadelik hoor Johannes stemme in die hemel. Dit word nie gesê wie se stemme dit is nie, want die klem val op die inhoud van hulle boodskap. Hulle uitroep gaan oor God se koningskap. Hulle getuig dat Hy koning is oor die hele wêreld en dat sy koningskap geen einde het nie. Ook die vier en twintig ouderling (dit is die kerk van die ou en die nuwe bedeling) sê na die engel die trompet geblaas het iets oor God se koningskap. Hulle beklemtoon dat God nou sy groot mag gaan gebruik en as koning gaan heers. Ons uitsig is in hierdie bedeling so beperk as ons alleenlik kan sien wat om ons gebeur. Die Heilige Gees gee egter in hierdie gedeelte die uitsig aan ons dat God nou al as koning regeer. Die tyd het egter nog nie aangebreek dat Hy sy groot mag gebruik teen hulle wat in opstand is nie. Dit is nou nog nie die tyd van “oordeel” nie (vgl. v. 18), maar die tyd sál aanbreek. Ons kry uitsig op ons dankbaarheid en lofprysing. Die vier en twintig ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, kniel met hulle gesigte na die grond en aanbid God nadat die engel op die trompet te geblaas het. Dit is duidelik dat die eer, respek, verwondering en dankbaarheid wat ons in die huidige bedeling ervaar vir dié God wat Koning is, by verre oorskry word deur dit wat die kerk nog sal ervaar. Ons is nog in die bedeling waar ons praat van God “wat is, wat was en wat kom.” Hulle loof die God “wat is en wat was.” Hy “sal” nie meer kom nie, want Hy is dan reeds daar. Ons kry uitsig op God se teenwoordigheid. Johannes sien die tempel in die hemel oopgaan en die verbondsark wat sigbaar word. Met hierdie beeld uit die Ou Testament word duidelik gemaak dat God dan op ʼn ongekende (en onbeskryflike) manier in sy skepping by sy verbondskinders teenwoordig sal wees. God kom woon by sy kinders. Die ouderlinge se woorde maak dit duidelik dat dit lóón vir elke, ja elke gelowige inhou. Vir die ongelowiges beteken dit egter dat die Koning sy volle mag sal gebruik om te oordeel. Ons mag met sekerheid uitsien na hierdie onbeskryflike teenwoordigheid van God in die toekoms. Hulle wat deel is van die “woedende nasies” (vgl. v. 18 en Ps. 2) moet ons egter lei om meer te sien as wat ʼn mens om jou kan bemerk.