Lees Spreuke 29:17-27
Teksvers: v. 25
Stel doelbewus jou vertroue in die HERE en laat geen ruimte vir mensvrees nie.
Vrees vir mense het sy eie dinamika.
Die spreukedigter stel in 29:25 vrees vir mense as persoon voor. Hy sê die vrees vir mense is soos iemand wat agterbaks optree en strikke stel. As jy dus aan vrees vir mense gehoor gee, dink jy nog die een oomblik jy het die regte antwoord gevind en die volgende oomblik is jy in die moeilikheid.
Die vrees waarvan die digter praat, moenie met hoflikheid en nederigheid verwar word nie. As ek hoflik en nederig is, gee ek om vir ander en ag hulle belange hoog. Vrees vir mense is egter daardie drang binne in ʼn mens waarvolgens jy altyd bekommerd is oor wat mense van jou sal dink en sê. Dit sluit ook die vrees vir vervolging in.
Die strik waarvan die digter skryf, beklemtoon die gevolge as ek toegee aan hierdie vrees. Vrees vir mense lei tot ʼn sondige toestand in my innerlike. Deur hierdie vrees word ek maklik angstig, onseker, besluitloos, gespanne, vol skuldgevoelens en gevoelens van skynheiligheid.
Vrees vir mense mond ook dikwels uit in sondige dade. Omdat ek mense se mening so hoog ag, swig ek maklik onder druk wat mense op my toepas en doen ek dinge wat ek weet nie reg is nie. Ek het nie die moed om teen die stroom in te gaan nie.
As jy, gelei deur die Gees, doelbewus jou vertroue in die HERE plaas, is daar geen ruimte vir mensvrees nie.
Teenoor mensvrees, stel die Spreukedigter vertroue in die HERE. As ek my vertroue in die Here stel, sal daar geen ruimte meer oor wees vir mensvrees nie. Ek sal alleen in staat wees om my vertroue in die Here te stel as ek na die Heilige Gees luister.
Luister as die Heilige Gees:
• jou lei om oor te gaan tot die daad,
Om God te vertrou is ʼn doelbewuste daad.
• in jou roep: “Abba”,
Die Gees leer ons om “Abba” te sê.
• jou verseker dat God jou buite bereik (“hoog”) plaas
Toegewings aan vrees, maak jou werklik kwesbaar.
• jou leer van God en die toekoms
Die toekoms waaroor jy jou bekommer is veiliger in God se hande as in jou eie hande of in die hande van hulle vir wie jy vrees.
• jou vanaf wankelende vertroue lei tot vaste vertroue.
ʼn Vaste gewoonte van mensevrees word nie maklik gebreek nie. Deur die Gees se leiding en krag moet ek vorder van ʼn wankelende vertroue tot ʼn vaste vertroue in God.