Skip to content
Menu

Lees Lukas 1:1-25 <- Klik om nou te lees Teks: vers 5 Verdwerg deur die reuse gebeure van die dag, kan ons maklik God se kragtige dade misken. Die gebeure van elke dag het onmiskenbaar ʼn reuse invloed op ons lewe. Wanneer Lukas die dinge aangaande Jesus Christus wat hy stap vir stap ondersoek het, noukeurig begin neerskryf, verwys hy heel eerste na koning Herodes van Judea. Elke vroeë leser van Lukas sou nie ligtelik by hierdie naam verby gelees het nie. Hierdie man self, maar ook die Romeine wat hom in Judea aangestel het, het ʼn reuse invloed op die Joodse volk gehad. Aan die beperkings en opdragte van Herodes en van die Romeine moes die Jode teen wil en dank gehoor gee. Juis in die laaste jare van Herodes se lewe, het die politieke en persoonlike stryd waarin hy as regeerder gewikkel was, die Jode intens geraak. Die gebeure van elke dag waarin God se volk eintlik geen rol gespeel het nie, het ʼn reuse invloed op hulle lewens gehad. So is dit ook vandag met ons as gelowiges. Die gebeure van elke dag het onmiskenbaar ʼn reuse invloed op ons lewe. Die reuse gebeure kan maklik in ons oë die kragtige dade van God verdwerg. Wanneer ʼn mens die gebeure by die tempel wat Lukas eerste beskryf, in die konteks van Herodes en sy opdraggewers verstaan, voel dit amper of dié gebeure verdwerg word. Sagaria en Elizabet is deel van ʼn volk wat onderdane is van die Romeine en grootliks uitgelewer is aan die grille van die wispelturige Herodes. Die gebeure by die tempel mag in die oë van die Jode groot wees, maar is dit nie maar net omdat hulle nie die nietigheid, geïsoleerdheid en selfs belaglikheid sien van dit waarmee hulle besig is nie? Die reuse gebeure van ons daaglikse bestaan kan maklik in ons oë die kragtige dade van God verdwerg! Erken in jou denke en dade die kragtige dade van God. Lukas, geïnspireerd deur die Heilige Gees, gaan egter voort om in fyn besonderhede dit wat in die oë van ander nietig, geïsoleerd en belaglik is, te beskryf. Die Gees lei die leser om te begryp dat die belangrikste dertig (en meer) jare van hierdie aarde se bestaan, begin het – jare waarin die grootste wending in die hele geskiedenis van die wêreld sal plaasvind. Let op die fyn besonderhede wat Lukas beskryf. Verstaan hoekom dit wat hy beskryf die “reuse gebeure” van elke dag verdwerg. Erken dan in jou denke en dade (dit is in jou gehoorsaamheid en in die entoesiasme waarmee jy verkondig) die kragtige dade van God: • God begin met ʼn man en vrou met sprekende name: Hy is “God is gedagtig” (Hy het nie vergeet nie) en sy is “God is ʼn eed” (Hy is die Getroue). Moenie dat God in jou denke en in jou lewe van elke dag uit die geskiedenis geskryf word nie. • God begin met ʼn priester wie se diensbeurt dit in die tempel was. God begin toe dit gaan om die innige gemeenskap met Hom. God laat nie die mens by Hom oorneem nie. Dit waarmee Hy begin het, voltooi Hy op ʼn manier waarin net een Mens ʼn plek kon inneem. • God begin met ʼn vrou wat nie meer kinders kon hê nie. Toe God weer begin het, dring die lewe wat Hy bewerk in elke kind van Hom se persoonlike lewe in.