Skip to content
Menu

Lees Johannes 1:29-34 <- Klik om nou te lees Lees Lukas 1:8-17 <- Klik om nou te lees Teks: Lk 1:17 In die nuwe bedeling kan jy aan mense se keuses sien aan wie hulle behoort Wie jou eienaar is, gaan bepaal hoe jy reageer. Gabriël sê aangrypende dinge aangaande die wegbereider van die Messias, aangaande die seun wat die Here aan Sagaria en Elizabet gaan gee. Ook wat die engel sê in verband met die reaksie van mense op die koms van die seun, bring by ʼn mens verwondering. Twee keer vertel die engel van “baie” se reaksie. “Baie” sal bly wees oor sy geboorte en die seun sal “baie” laat terugkeer tot die Here. Maar juis in hierdie woord “baie” word ʼn openbaring gegee wat ons nie moet mis nie. “Baie” sê ook dat dit nie almal is nie. Daar sal ook baie, ja baie meer wees wat nie bly is nie en wat nie terugkeer tot die Here nie. Die engel praat spesifiek van die “volk Israel” (v. 16). Uit die volk Israel sal selfs nie almal bly wees en terugkeer tot die Here nie. Die rede waarom daar selfs uit Israel mense is wat nie met blydskap reageer toe God sy nuwe bedeling laat aanbreek nie, is ook uit Gabriël se openbaring duidelik. In ʼn volk wat daarop geroem het dat hulle aan die Here behoort, is daar dié mense wat waarlik kan sê dat die “Here hulle God” (v. 16) is en wat waarlik deel is van die volk wat God vir Hom voorberei het (vgl. v. 17). Wie jou eienaar is, gaan bepaal hoe jy reageer. Jy herken die mense wat aan God behoort aan hulle keuses. Die engel maak aan Sagaria bekend hoe die volk wat aan God behoort, se keuses sal lyk. Ons kan op drie keuses wys: - Die maatstaf waarmee hulle meet, is uniek. Die engel sê dat die “baie” wat bly is, bly is omdat die wegbereider groot is in die oë van die Here. In die oë van die ander “baie” was die wegbereider beslis nie groot nie. Die unieke van mense wat aan die Here behoort, is dat hulle deur die oë van die Here kyk en daarvolgens beoordeel. - Deur die Gees reageer hulle op God se openbaring Die seun van Sagaria en Elizabet sal nie wyn en bier drink nie, maar sal van geboorte af vol wees van die Heilige Gees. Vol van die Gees sal hy die Messias aanwys en vol van die Gees sal hy mense tot bekering roep. Hoe moeilik dit ook al is om dit te verstaan, sal daar werklik mense wees wat hierdie Geesvervulde boodskap hoor en dit verwerp. Dié mense wat egter die Gees ontvang het, reageer in geloof. Daar is by hulle blydskap en gehoorsaamheid. - Hulle is teen-die-stroom-in mense Wanneer die engel sê dat hierdie seun van Sagaria en Elizabet vaders en kinders met mekaar sal versoen, verwys hy nie ten diepste na gesinsvrede nie. Die engel praat van die jonger geslag wat meegevoer is deur die tydsgees en nie meer die gehoorsaamheid van die ouer geslag geopenbaar het nie. Deur die geslagte heen sal daar egter mense wees wat met die vorige getroue geslagte ʼn eenheid vorm. As hulle wel deur die tydsgees meegevoer word, kom daar inkeer en berou.