Lees Lukas 1:57-66 <- Klik om nou te lees Teks: 65-66 As die ontsag en afwagting so hoog was met dagbreek, hoe moet dit nie wees noudat dit dag geword het nie? Daar was ontsag en afwagting toe God se nuwe dag breek. Met die geboorte van Sagaria en Elizabeth se kind, begin lig die ooste verkleur – God se nuwe dag het aangebreek. Dit sal voluit dag word wanneer Maria se Kind gebore word. Reeds by die breek van die dag is daar besondere reaksie by die mense. In sy beskrywing van Johannes die Doper se geboorte, neem Lukas ons as’t ware na die bergstreek van Judea waar hierdie kindjie gebore is en laat hy ons deur die oë van die mense wat daar gewoon het, die dagbreek aanskou. Hy laat ons iets van die opgewondenheid beleef van die mense wat gehoor het dat Elizabeth swanger is en iets van die verbasing van die mense toe Elizabeth weier dat die kindjie met sy besnydenis Sagaria genoem word. Lukas laat egter die klem val op die mense se reaksie toe Sagaria sy spraak terugkry en begin praat en God prys. Jy beleef hoe die mense skielik begin agterkom dat daar nie net iets wonderlik met Elizabeth gebeur het nie. Die mense besef skielik dat God nou op ʼn besondere manier aan die werk is. God laat sy nuwe dag aanbreek. Nou is die mense nie net meer bly saam met Elizabeth nie (vgl. v. 58). Nou is hulle gevul met “ontsag” (vgl. v. 65) vir Hom wat hierdie dinge bewerk en het daar by hulle ʼn afwagting gekom oor wat God verder gaan doen (vgl. v. 66). Hoeveel te meer moet ons nie met ontsag en afwagting vervul word noudat dit dag is nie? Mag die Here ons ook soos die mense van die bergstreek sy werke laat begryp. Mag ons sy werk sien as ons deur die oë van die bergstreek se mense sien hoe die dag breek. Mag ons veral sy werk sien as die son voluit begin skyn met die geboorte van Jesus Christus. Dan sal ons gevul word met ontsag, want ons sal sien hoe Hy in sy almag en liefde ons totaal hopelose toestand, ons gevangenisskap in die donkerste donkerte, radikaal verander. Diep in ons binneste sal ingebrand wees die lig wat God eers die ooste mee verkleur het en daarna in ons wat in die nag verkeer het, die volle dag laat aanbreek het. Soos met die mense van die bergwêreld sal ons ook, as ons God se werke begin begryp, met afwagting gevul word. Van God wat sy nuwe dag so voor “ons” oë laat aanbreek het, mag ons baie verwag. Ons mag van Hom in hierdie lewe oorvloed verwag. Ons mag ook van Hom vir die lewe wat kom, menslik onbeskryflike dinge verwag. Mag die Here vanoggend die Nagmaal gebruik om ons, soos die mense van die bergstreek, sy werke te laat begryp sodat ons met ontsag en afwagting gevul sal word.