Skip to content
Menu

Lees 1 Tessalonisense 5 <- Klik om nou te lees Teks: 23 Die God van vrede werk in ons ʼn aksie-vrede. Die God van vrede bewerk aksie-vrede in ons. Wanneer Paulus in 5:23 aan die Tessalonisense bekend maak wat hy in sy gebede vir hulle van God vra, noem Hy God die “God van vrede.” Van hierdie God van vrede, vra Paulus egter nie soos ʼn mens sou verwag, dat hy vir hulle vrede sal gee nie. Hy bid dat die God van vrede hulle toegewyd sal maak. Wanneer die God van vrede in jou werk, kry jy inderdaad vrede, maar nie vrede wat jou laat arriveer en agteroor sit nie. Die God van vrede werk in jou ʼn vrede wat jou toegewyd maak. God se vrede is ʼn aksie-vrede. Deur God se aksie-vrede is ek nie met min tevrede nie. Paulus vra nie net dat die God van vrede die gelowiges toegewyd sal maak nie. Hy vra dat hulle volkome toegewyd sal wees. Wanneer ek die vrede van God ontvang, sal ek nie met min tevrede wees nie. Ek beywer my om volkóme toegewyd te wees. God se aksie-vrede bring in my lewe ʼn spesifieke fokus. Die toewyding wat God in my werk, het ʼn spesifieke toespitsing. Ek wil volkome heilig lewe; ek wil volkome aan God toegewyd leef. Ek deel dus nie my lewe op in afdelings waarin sommige dele aan God behoort en ander aan myself nie. My totale lewe het ʼn fokus op God. Die vrede van God deursuur dus elke aspek van my lewe en bewerk die fokus om my in alles aan God toe te wy. Saam met God se aksie-vrede kom ook die besef van veiligheid. ʼn Mens sou verwag dat mense wat deur God se aksie-vrede hierdie hoë standaarde vir hulleself stel en met hulle hele lewe aan God toegewyd wil leef, ʼn groot mate van onsekerheid sal beleef. Ons weet immers dat ons nie in hierdie lewe ooit hierdie volmaaktheid sal bereik nie. Die aksie-vrede van God bring egter ook ander soort aksie in die gelowige. Paulus beklemtoon in sy gebed in vers 23 God se totale bewaring. God bewaar sy kinders “geheel en al” en Hy bewaar hulle “na gees, siel en liggaam.” Hy bewaar elke kind van Hom as totale mens. Die God van vrede se “sekuriteitsmaatreëls” het nie soos ons maatreëls swak plekke wat uitgebuit kan word nie. Sy bewaring verswak ook nie, soos ons sʼn, by tye nie. Hy bewaar sy kinders tot Jesus Christus terugkom. Mense wat God se aksie-vrede ontvang, koester hulle aktief in hierdie sekerheid. Hulle leef met sekerheid toegewyd aan God.