Lees Nehemia 2 <- Klik om nou te lees Teks: 21-22 Ek ken die Here se “goeie hand” oor my en daarom maak ek tyd vir besinning. Uit die verlede ken ek die Here se “goeie” hand oor my. Kersfees het ons weer diep onder die indruk gebring van die besondere manier waarop God in hierdie nuwe bedeling by sy kinders teenwoordig is. Die Ou Testamentiese gelowiges het geen Kersfees geken nie. Die koms van God se Immanuel was vir hulle nog toekomsmusiek. Tog hoor ons by iemand soos Nehemia in die ou bedeling alreeds ʼn diep bewustheid van God se teenwoordigheid. Hy praat van sy God wat sy “goeie hand” oor hom gehou het. Van hierdie “goeie hand” van God wat Hy oor sy kinders hou, mag elke gelowige diep bewus wees. Dit is eintlik eienaardig dat Nehemia van God se “goeie” hand kan praat. Hy was immers in ballingskap. Hy het ook geweet in watter toestand sy land verkeer. Tog was hy daar in ballingskap bewus van God se liefdevolle en versorgende hand. Dit blyk uit die feit dat hy ʼn man van gebed was en in besonder uit die inhoud van sy gebede. Hy het God se “goeie hand” in sy beproewingstyd geken. Herken ek God se “goeie hand” oor my in die jaar en jare wat verby is? Dit wat in my hart is, moet ook onder God se “goeie hand” gestel word Nehemia druk sy planne vir die toekoms op ʼn besondere manier uit. Hy praat van dit wat die Here in sy hart gegee het. Dit was nie net die plan om Jerusalem se mure te herbou, wat Nehemia gesien het as iets wat die Here in sy hart gegee het nie. Dit blyk uit alles wat ons van sy optrede weet en in besonder uit sy gebede. Elke gedagte, elk plan, elke motief, elke verwagting vir die toekoms moet onder die goeie hand van die Here gestel word. Tyd vir besinning is daarom belangrik. Alvorens Nehemia met die werk begin het, het hy eers tyd gemaak vir besinning. Al was hy bewus van God se goeie hand oor hom, storm hy nie in en begin dit wat hy wil aanpak sommer uitvoer nie. Juis omdat ʼn mens bewus is van God se goeie hand oor jou, is tyd vir besinning belangrik. Hoewel die begin van ʼn nuwe jaar nie die enigste tyd vir besinning is nie, is dit wel ʼn goeie tyd vir besinning. Dit is goed om die besinningstyd te begin met nadenke oor God se goeie hand in my lewe. Verder kan ek in my besinning aandag gee aan “omgevalle mure” in my lewe – dinge wat met die tyd nagelaat is en wat vervalle geraak het. Ek kan in my besinningstyd aandag gee aan hoe ek my beplanning vir die toekoms onder God se goeie hand wil uitvoer. Ek kan besin oor hoe die terugslae en teëstand wat ek mag ervaar, juis onder die besef van God se goeie hand oor my, sal verwerk. Dit is nou ʼn goeie tyd om te besin hoe ek in 2011 onder God se goeie hand sal leef.