Lees Markus 1:1-11 <- Klik om nou te lees Teks: 12 Die Koning se oorwinning in die woestyn is nou nog sigbaar – in ons lewens! Wanneer Jesus die woestyn in gedryf word, gaan Hy as die nuwe mensehoof. Ons het verlede week oor ons Here se doop gehandel. Dit was duidelik dat Jesus met sy doop ons las op Hom geneem het. Hy, die sondelose, het met sondaars een geword. Markus beklemtoon dat Jesus direk ná die doop deur die Heilige Gees die woestyn in “gedryf” is. Die ander gedooptes gaan huis toe, maar Hy moet die woestyn in. Hy gaan nou as die Een wat met sondaars een geword het. Hy gaan nou as die nuwe mensehoof. Wat nou kom, het ten volle betrekking op hulle wat aan Hom verbind is. Die Versoeker van toe, is nou nog werksaam. Markus verhaal drie dinge wat met Jesus in die woestyn gebeur het. Eerstens vertel hy dat Jesus, terwyl hy veertig dae in die woestyn was, deur die Satan versoek is. Die heerlike versekering vanuit die hemel (met Jesus se doop) het nie beteken dat daar vir Hom geen stryd voorlê nie. Die versekering het juis gegaan oor die oorlog wat moes kom. Dit is ʼn oorlog wat deur die eerste mensehoof, Adam, teen die Versoeker verloor is. Dit is ook ʼn oorlog wat die Versoeker nie alleen teen die nuwe Mensehoof, Jesus Christus voer nie, maar ook teen sy volgelinge. Dit is ʼn oorlog wat ons in die nuwe jaar te wagte kan wees. Die Koning se sigbare Eden-oorwinning in die woestyn is nou nog sigbaar. Die tweede ding wat volgens Markus met Jesus in die woestyn gebeur, is dat Hy saam met die wilde diere was. Markus vertel nie, soos van die ander evangelies, die detail van die versoekings nie. Hy sê ook nie uitdruklik dat Jesus die versoekings van Satan weerstaan het nie. Hy vertel van iets anders wat gebeur het: Jesus was saam met die wilde diere. Uit die konteks is dit duidelik dat Markus nie daarmee wil sê dat Jesus die gevaar van wilde diere moes trotseer nie. “Saam met die wilde diere” beklemtoon dat die nuwe Mensehoof daar in die woestyn oor die wilde diere regeer het. Hý deur wie God alles geskape het, wat gekom het om te herskep, tree in die begin van sy bediening as Regeerder na vore. Hy weerstaan nie net die versoekings van die Satan nie, maar toon dat Hy gekom het om die verwoesting wat Satan met sy oorwinning oor die eerste mensehoof behaal het, tot niet te maak. Iets van die harmonie in Eden tussen mens en skepping breek in die woestyn deur. Die oorwinning wat Jesus Christus met sy opstanding uit die dood sou behaal, word reeds in die woestyn sigbaar. As mensehoof waarborg Hy hierdie oorwinning aan elkeen wat aan Hom verbind is. In ons lewe word hierdie Eden-oorwinning sigbaar in ons gehoorsaamheid aan Hom. Die sekerheid van die Koning se finale oorwinning is nou nog geldig. Die derde ding wat met Christus gebeur, is dat die engele hom bedien. Uit die ander evangelies weet ons dat dit gebeur het toe Jesus al die versoekings weerstaan het. Hier aan die begin van sy bediening word iets van die glorie wat Hy ná sy oorwinning oor Satan en die dood sou ontvang, reeds sigbaar. Deur ons verbondenheid aan Hom is die sekerheid van die oorwinning waarmee hy die stryd kon betree ook ons sekerheid.