Markus 1:14-28 <- Klik om nou te lees Teks: 14 Reeds in Jesus se beginprediking staan blydskap sentraal. Jesus proklameer reg van die begin af ʼn blye boodskap. Jesus is gedoop en het die versoekings van die Satan in die woestyn weerstaan. Dan begin hy preek. Markus gee vir ons die kerninhoud van Jesus se beginprediking. Anders as van die Wegbereider (Johannes) se prediking, beklemtoon Markus van Jesus se beginprediking dat Hy ʼn Blye Boodskap verkondig het. Hierdie boodskap gaan verkondig Hy aan die mense van Galilea. Aan hierdie mense wie se lewens ook soos ons s’n dikwels met swaarkry en teëspoed gevul was, bring Hy ʼn boodskap wat hulle lewe blydskap moet vul. Is dit hoe jy oor die boodskap van God se Woord dink? ʼn Boodskap wat jou lewe met blydskap kan vul? Die is ʼn Blye Boodskap want Jesus handel: - nie oor mense se pogings om uitkoms te bewerk nie en Die eerste ding wat Markus van Jesus se prediking aanhaal, is dat Jesus gepreek het dat die tyd aangebreek het. Die passief van die werkwoord dui aan dat dit God is wat die tyd laat aanbreek het. Die tyd van die werkwoord wys op iets wat reeds gebeur het en waarvan die gevolge voortduur. Die woord vir “tyd” wys nie op tyd in die algemeen nie, maar op ʼn spesifieke tyd. God het ʼn spesifieke tyd laat aanbreek en die gevolge daarvan duur voort. Jesus het dus vir die mense van Galilea gepreek dat dit wat begin gebeur het, nie maar weer mense se pogings is om uitkoms te bewerk nie. God het ʼn baie spesifieke tyd laat aanbreek en sorg dat daar werklik gevolge sal wees – heerlike gevolge. Onthou: die Blye Boodskap gaan oor wat God gedoen het en die gevolge van sy optrede.. - oor die Koning se sigbare regering. Die tweede saak wat Markus van Jesus se prediking aanhaal, is dat die koninkryk naby gekom het. Dit het so naby gekom dat die Koning van die ryk, Jesus Christus in hulle midde staan. Voor hulle oë sal hulle sien dat Hy die Verleier verslaan as Hy duiwels uitdryf, hoe God se heerskappy deurbreek as Hy siekes gesond maak en uiteindelik hoe die deurslaggewende oorwinning behaal word wanneer Hy aan die kruis sterf, uit die graf opstaan en opvaar na sy Vader in die hemel. Die Koning van die ryk het tussen ons in gekom en in ons midde en in tyd sigbaar sy oorwinning en regering sigbaar gemaak. Die boodskap van blydskap moenie by my verbygaan nie. Derdens beklemtoon Markus van Jesus se prediking die oproep tot bekering en geloof. Die woord vir bekeer beklemtoon dat ʼn mens totaal nuut moet begin dink en dan totaal nuut reageer. Die Blye Boodskap wat Jesus verkondig het, pas nie in die denkraamwerk van die gewone mens nie. Eers as die Gees my verander, kyk en hoor ek nuut en kan ek met blydskap gevul word. Wie nie nuut kyk nie, sal vaskyk teen die swaar wat nog in hierdie bedeling voortduur en vra: “Watter rede vir ware blydskap is daar op hierdie aarde?” ʼn Mens wonder hoeveel van die mense van Galilea het so geredeneer toe die Wegbereider in die tronk beland het terwyl Jesus van blydskap preek.