Skip to content
Menu

Lees Levitikus 27 <- Klik om nou te lees Teks: 26 Dit wat die “gewone” is, is vir die Here ononderhandelbaar. Dit wat vir ons iets groots is, is nie noodwendig vir die Here die belangrike nie. Terwyl die voorafgaande hoofstukke handel oor dit wat God van sy volk eis, handel Levitikus 27 oor dit wat ʼn mens vrywillig vir die Here kon bied. Ons lees onder andere van volwassenes (mans en vroue, v. 3-4), kinders (seuns en dogters, v. 5-6), diere (rein en onrein) en besittings (huise en grond, v. 14-25) wat in ʼn gelofte aan die Here gewy kon word. Die mens wat die gelofte aflê, het deur hierdie wyding van iemand of iets die erns en dringendheid van sy versoek aan die Here geopenbaar. Die eienaardige in Levitikus 27 is egter dat die Here ʼn uitweg gee aan iemand wat so gelofte afgelê het. Die gelofte mag nie verbreek word nie, maar daar kon ʼn loskoopwaarde vasgestel word sodat die persoon die gelofte ongedaan kon maak. Dit is vir die aanbieder iets groots wanneer hy/sy byvoorbeeld ʼn kind of ʼn huis aan die Here wy. Vir die Here is sy kind se dringende versoek natuurlik ook ʼn saak van erns. Tog moet ons nie aanvaar dat dit wat die uitsonderlike is, dit wat vir die mens groots is, vir die Here die belangrike nie. Let op: Hy gee ʼn uitweg dat die “grootse” wat aan hom gewy is, weer deur die aanbieder teruggekry kan word. Die gewone diens aan Hom, is vir die Here ononderhandelbaar. In Levitikus 27 word daar wel iets aan die orde gestel wat ononderhandelbaar is. Die Israeliete moes die eerste kalf van ʼn koei en die eerste lam van ʼn bok of ʼn skaap aan die Here gee (vgl. v.26). Hierdie was geen uitsonderlike diens aan die Here nie. Dit was die gewone wat gedoen is. Tog was hierdie aanbied aan die Here nie onderhandelbaar nie. Hierdie “gewone” het aan die Here behoort en mag nie in ʼn gelofte aan die Here gebied word nie. Noudat ons Here Jesus ons met sy bloed gekoop het, noudat ons met volle begrip weet dat ons en ons besittings ten volle aan Hom behoort, hoeveel duidelikheid behoort ons nie te hê dat die “gewone” diens aan die Here vir Hom ononderhandelbaar is nie? My gebede en luister na sy Woord elke dag, my toewyding aan my wederhelf en my gesin, my getrouheid in my werk, my verhouding met mense en my aanbidding saam met die gemeente, is in ons oë die “gewone” van my lewe. Hierdie gewone is vir die Here ononderhandelbaar.