Lees Markus 8:1-21 <- Klik om nou te lees Teks: 21 Jy wat in die binnekring is, moet beslis groei in jou insig in God se wonderdaad. Volharding in oppervlakkige insig by mense in die binnekring, is gevaarlik. Wanneer Jesus die dissipels waarsku teen die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes, dink hulle dit gaan oor die feit dat hulle nie gesorg het dat daar genoeg brood is nie. Dit klink amper of Jesus op daardie oomblik sug oor die reaksie van die dissipels. Hulle wat dag vir dag saam met Hom is, wat na Hom luister en die wonders wat Hy verrig, gesien het, hulle wat dus nie buitestaanders is nie, toon in hulle reaksie dat hulle self nie veel meer insig het as die buitestaanders, die Fariseërs en Herodes, nie. Jesus maak ook duidelik dat dit nie ʼn ligte saak is wanneer mense in die binnekring, met ʼn oppervlakkige insig volstaan nie. Deur die vrae wat Jesus aan die dissipels vra, plaas Hy hulle gebrekkige insig in die konteks van Jesaja 6:9-10. In hierdie Ou-Testamentiese gedeelte word die volk met groot erns gewaarsku dat hulle weiering om te hoor en te sien tot permanente verharding kan lei. Vir mense in die binnekring is dit uiters gevaarlik om te volhard met oppervlakkige insig. Maak seker dat jy groei in jou insig in God se wonderdaad Hoe kan ons dan voorkom dat ons nie volhard met ʼn oppervlakkige insig nie? As ons dit positief kan vra: Hoe sal ons groei in ons insig? Uit die gedeelte kan ons twee dinge uitlig wat ons moet doen: i) distansieer jou bewustelik van ander se kwaadwillige en oppervlakkige denke oor Jesus Christus en ii) deurdink God se wonderdaad in sy Seun. i) Distansieer jou van kwaadwillige en oppervlakkige denke oor Christus. Jesus maan die dissipels om af te sien van die “suurdeeg” van die Fariseërs en Herodes. Sy verwysing na suurdeeg beklemtoon die feit dat denke van die Fariseërs en Herodus soos suurdeeg deurwerk en mense beïnvloed. Om van hierdie suurdeeg af te sien, behels dat die dissipels hulle doelbewus van hierdie denke sal distansieer. Die Fariseërs het gevoel dat hulle koninkrykies bedreig word deur Jesus. Kwaadwillig skryf hulle sy werk aan die duiwel toe. Herodus aanvaar met ʼn oppervlakkige antwoord dat Jesus magtige dade kan doen omdat die vermoorde Johannes se krag in Hom werk. Van gelowiges word vereis om hulle bewustelik van alle kwaadwillige en oppervlakkige denke oor Jesus te distansieer. ii) Deurdink God se wonderdaad in sy Seun. Die Fariseërs wou Jesus nie erken as God se Gestuurde, as God se ware antwoord nie. Hulle vra daarom ʼn teken (vgl. 8:11). Wie in insig wil groei, moet die wonder deurdink dat God se Seun as Gestuurde na hierdie aarde gekom het. Teenoor die oppervlakkige antwoord van Herodes behoort die gelowige erns te maak met die ware oorwinning van Jesus Christus. Anders as die dissipels wat net met ʼn belangrike saak aangaande brood geworstel het, behoort die gelowige te groei na insig in God se volkome sorg vir ons in Hom wat die ware brood van die lewe is.