Lees Matteus 22:1-14 <- Klik om nou te lees Teks: 2 Jy wat in die binnekring is, moet beslis groei in jou insig in God se wonderdaad. Tema: Die uitnodiging lyk weerloos, maar kom met feesklere na die Koning se bruilofsfees 1. Dit is die Een wat uitnooi wat jy moet herken (verlede week). 2. Jy is uitgenooi na ? bruilofsfees (Vanoggend)! Inleiding: Ons het verlede week aandag gegee aan die feit dat Jesus in die gelykenis beklemtoon het dat dit die koning is wat die uitnodiging tot die mense gerig het. Dit is die kóning se uitnodiging wat die mense eenvoudig geïgnoreer het! Jesus beklemtoon egter ook dat die mense na ʼn besondere bruilofsfees uitgenooi is. Uit die gelykenis is dit duidelik dat die mense wat nie na die fees kom nie, nie maar net ʼn fees gemis het nie. Aan die ander kant is dit ook duidelik dat die mense wat wel na die fees kom, nie maar net nog ʼn fees bywoon nie. 2.1 Die mense wat nie na die fees kom nie, mis nie maar net ʼn fees nie. In die gelykenis gaan die mense wat nie die fees bywoon nie (vv. 2-7) of wat dit onregmatig bywoon (vv.12-13), nie maar net gewoon voort met hulle lewe nie. Die mense wat die uitnodiging geminag het en selfs teen die koning se slawe opgetree het, word doodgemaak en hulle stad word verbrand (v.7). Hierdie is ʼn duidelike verwysing na die Jode wat Christus verwerp het en na wat daarna gebeur het. Jerusalem, die Godstad word in 70 nC deur die Romeine verwoes. In Rome was feesgevier. In die fees van die heidene geskied God se reg. Die Koning voltrek sy oordeel via die Romeine. Dit word ʼn ander fees as die fees wat die Jode geminag het. Dit was ʼn “fees” waar God se reg geskied. Ook die man sonder bruilofsklere aan (dit is mense wat onregmatig op die fees is), word uitgegooi in die “buitenste duisternis” (v. 13). Wie nie deel is van die bruilofsfees van die Koning nie, is deel van ʼn ander “fees”, die “fees” waar die Koning se reg geskied, ʼnfees van God se toorn en oordeel. U teenwoordigheid vanoggend by hierdie Nagmaal, Gelowige, sê dat u afwesig is en sal wees by die ander “fees.” Die brood en die wyn be-teken vir u, gelowige, dat u nie deel is van die stad wat die Koning sal verbrand en van die mense wat Hy in die buitenste duisternis sal uitgooi nie. 2.2 Die mense wat wel na die fees kom, woon nie maar net nog ʼn fees by nie. Jesus beklemtoon dat die fees waarnatoe die koning die mense uitnooi, ʼn baie spesiale fees is. Dit is ʼn bruilofsfees en in besonder ʼn bruilofsfees vir die koning se seun. Hoe dwaas was die Jode nie toe hulle Jesus, die Seun van God nie as die Messias wou aanvaar nie? God bewerk deur sy Seun die intiemste eenheid tussen Hom en dié mense oor wie Hy Hom ontferm. God berei ʼn bruilofsfees vir sy Seun voor en die Jode verag dit. U, Gelowige, is deur die genade van die Koning geskik gemaak om teenwoordig te wees op hierdie bruilofsfees. Verstaan uit die Nagmaal die besonderhede van die bruilofsfees. Verstaan dat die ware bruilofsgaste eintlik die bruid by die fees is. Verstaan wat dit beteken om bruid te wees van God se Seun, die Bruidegom. Verstaan dat hierdie bruilof nie ʼn verbygaande geleentheid is nie. 3. Ware feesgangers dra besondere feesklere (DV vanaand met Nabetragting).