Skip to content
Menu

Lees Filippense 3:1-14 <- Klik om nou te lees Teks: vers 10-11 Om Christus te ken is om opstandings- en sterwenskrag te ken en sekerheid te hê oor die heerlike opstanding wat kom. Inleiding: Die gelowiges wat verlede week saam met die Gasheer, Jesus Christus aan tafel gegaan het, is mense wat sekerheid het dat hulle deur die versoeningswerk van die Gasheer regverdig gemaak is. Omdat hulle Christus ken, mag hulle seker wees van die feit dat die hoogste Regter hulle volkome regverdig verklaar (vgl. v.9). In ons teksvers kom daar egter ook drie ander feite na vore aangaande mense wat Christus ken – feite wat nie altyd vir ons so op die voorgrond staan soos die feit van ons regverdigmaking nie. Om Christus te ken, is om in hierdie lewe sy opstandingskrag te ken. Gelowiges verwonder hulle oor die krag waarmee Jesus Christus daardie Sondag uit die graf opgestaan het. Hy het die onbreekbare kake van die dood met krag oopgebreek en met die lewe uit die graf gekom. By verwondering oor die Here se krag en selfs by belydenis van Hom as oorwinnaar, kan dit vir die mense wat Hom “ken” egter nie bly nie. Die Oorwinnaar sorg dat sy oorwinning elke dag in ons lewens plaasvind. Die Oorwinnaar gee deur sy Gees dieselfde opstandingskrag waarmee Hy die dood oorwin het, aan hulle wat aan Hom verbind is. As ek Christus ken, móét ek ook sy opstandingskrag ken. Soos die klip wat voor Christus se graf weggerol was, ʼn duidelike teken van oorwinning is, so sal daar in ons lewe van elke dag “weggerolde klippe” wees; duidelike tekens dat ons met die opstandingskrag van ons Here as nuutgemaakte mense lewe. Om Christus te ken, is om in hierdie lewe sy sterwenskrag te ken. Ons deins terug wanneer ons begin begryp watter lyding ons Here werklik deurgemaak het. Ons skrik as ons besef dat dit ons is wat hierdie lyding veroorsaak het. Maar daar is ook iets anders wat ons aangaande Christus se lyding moet verstaan. In vers 10b lees ons dat ons deel het aan sy lyding. Deur die werking van die Gees het ons so een geword met Hom dat Sý lyding ook óns lyding was! Dit is vanweë hierdie eenheid dat God se oordeel oor ons sondes in sy lyding gestil kon word. Hierdie deel hê aan Christus se lyding het egter belangrike gevolge. Wie hierdie lyding ken, word omvorm (vgl. v. 10c). Ons word gelykvormig gemaak aan Christus se dood. Iemand wat Christus “ken” deel dus ook in Christus se “dood wees.” Die vraag is: “Hoe deel ons in sy ‘dood wees’?” Ek deel daarin deurdat Christus se “dood wees” ʼn realiteit in my lewe word wanneer ek die sondige in my lewe, al is dit vir my hoe kosbaar, laat sterf. Om Christus te ken, is om in hierdie lewe sy sterwenskrag te ken. Om Christus te ken, is om nederig sekerheid te hê oor die opstanding wat kom. Soos die vroue en die apostels moes glo dat die onmoontlike plaasgevind het, naamlik dat Jesus uit die graf opgestaan het, so word ons ook deur die Gees gelei om dit te glo. Die Gees lei ons egter ook om te glo dat ʼn ander onmoontlike wel sal plaasvind, naamlik ons eie heerlike opstanding met die wederkoms. Hierdie is beslis nie ʼn vermetele sekerheid nie. Die Gees gee ons ʼn duidelike besef van ons onwaardigheid (Let op die OAV v. 11 se “of ek miskien”). Die sekerheid wat die Gees gee, is egter ʼn sekerheid op grond van die oorwinning van Jesus Christus.