Lees Spreuke 11:1-20 <- Klik om nou te lees Teks: vers 14 Wees bedag op die besondere werking van die Gees wanneer jy moet besluit. Ook in besluitneming moet ek bedag wees op die wysheid wat die Gees gee. In die boek Spreuke lei die Here ons om met wysheid te op te tree in die lewe van elke dag. Mense wat deur Christus van hulle dwase ongehoorsaamheid aan God verlos is, word deur die Gees gedring om hulle lewe volgens die wysheid van elke spreuk in die boek Spreuke in te rig. In ons teksvers gaan dit oor besluitneming. Spreuke 11:14 wys daarop dat mense (in 11:14 waarskynlik ʼn koning) dwaas of wys kan optree wanneer hulle besluite moet neem. Wanneer mense dwaas optree, het dit verwoestende gevolge – die volk “val.” Aan die ander kant, wanneer mense met besluitneming wys optree, kom daar “redding.” Ons word dus in hierdie spreuk deur die Here gelei om bedag te wees op die besondere werking van die Gees wanneer ons besluite moet neem. Omdat die Gees aan my nederigheid gee, is ek gewillig om na raad te luister. Watter besondere leiding ontvang ons van die Gees wanneer ons besluite moet neem? Dit is duidelik dat ons in 11:14 gewaarsku word teen hoogmoed. Die spreuk gebruik waarskynlik ʼn koning as voorbeeld. In hoogmoed dink die koning dat hy nie die raad van ander nodig het nie. Om hom is “baie raadgewers”, maar hy luister nie na hulle nie. Hy dink dat hy alle wysheid het. In die Bybel het ons baie voorbeelde van sulke konings. Mense wat deur Christus van die beheersende mag van dwaasheid verlos is, sal na die Gees luister en die hoogmoed, wat maar altyd weer in ons lewe kop uitsteek, doodmaak. Omdat die Gees aan my nederigheid gee, is ek gewillig om na raad te luister. Die Gees: lei my om saam met “raadgewers” te besin. Wie deur die Gees tot nederigheid gelei is, word nie bedreig deur die raad van ander nie. Volg dus as die Gees jou lei om in jou huwelik, gesin, tussen jou vriende of by die werk ruimte te skep dat ander jou kan be-raad. maak my sensitief vir goeie raad. In 11:14 gaan dit nie sommer oor enige raad nie. Die koning moes na “baie raadgewers” luister. Nie alle raad sou goeie raad wees nie. Die koning moes daarom met wysheid die raad wat hy ontvang, weeg. Dit is die Gees wat Christus aan ons gee wat aan ons die wysheid gee om die raad wat ons ontvang, te weeg. Bid vir hierdie wysheid. gee die vertroue sodat ek kan besluit. Die koning kon nie ʼn besluit bly uitstel nie. Ná hy van die baie raadgewers raad ontvang het, moes hy ʼn besluit neem – ʼn besluit wat “redding” vir die volk moes beteken. Deur die Gees kan God se kinders selfs moeilike besluit in vertroue neem.