Skip to content
Menu

Lees Hebreërs 6:13-20 <- Klik om nou te lees Teks: vers 18 Tot mense wat hulle hoop op die Here vestig, rig Hy ʼn kragtige vermaning/vertroosting. Ook dié mense wat altyd hoop behoort te hê, kan in hul “hoop” begin wankel. Gelowiges is mense wat nooit sonder hoop behoort te wees nie. Ons behoort nooit sonder hoop te wees oor die lewe hierna nie, maar ook nooit sonder hoop in hierdie lewe nie. Watter teëspoed daar ook al kom, behoort ons nooit onseker te wees oor God se liefdevolle teenwoordigheid en versorging en dat Hy ons nie bo ons kragte sal beproef nie. Uit ons teksgedeelte (en uit die res van die brief) word dit egter duidelik dat gelowiges wel in hulle hoop kan wankel (let op die oproep om vas te hou aan die hoop, 6:18). Al is ek ʼn gelowige, is ek nie immuun teen wankeling in my hoop nie. Die Here vermaan/vertroos hulle kragtig wat tot Hom gevlug het, en nou wankel. Mense wat besef het in watter gevaar hulle verkeer en wat na God gevlug het (vgl. “toevlug tot Hom”) en daarna begin wankel in hulle hoop, word deur die Here vertroos/vermaan. Dit is ʼn “kragtige” vertroosting/vermaning waarteen niemand enige teenargumente sal kan inbring nie. Gelowiges wat ag gee op die vermaning/vertroosting, sal aan die “hoop” wat duidelik sigbaar is (“weggelê” vertaal “oop en bloot”), onder alle omstandighede kan vashou. In die Here se kragtige vermaning/vertroosting wys Hy ons op wat Hy gesê het en wat Hy gedoen het. In sy vermaning/vertroosting wys die Here jou op wat Hy gesê het. Die skrywer wys op wat God se versekering aan die vader van al die gelowiges is. God se belofte aan Abraham het vas gestaan op grond van die feit dat God nie kan lieg nie. Ter wille van die swakheid van die mens het God dit wat Hy beloof het, nog met ʼn eed bevestig. Ons wat in Christus op ʼn besondere manier erfgename is van hierdie belofte, ontvang dus ʼn dubbele bevestiging van God af. Ek kan ʼn skaal neem en dié dinge wat my in my hoop laat wankel aan die een kant op die skaal plaas. Aan die ander kant kan ek God se dubbele versekering plaas. Hoe verskriklik sou dit nie wees as God se versekering, sy belofte en sy eed, vir my die ligste weeg nie. In sy vermaning/vertroosting wys die Here ook op wat Hy gedoen het. Die Here het egter nie net gepraat nie. In sy vermaning/vertroosting wys Hy ook op wat Hy gedoen het. In verse 19-20 word gewys op die besondere wyse waarop God die belofte aan Abraham vervul het. Deurdat Jesus oorwin het, opgevaar het en ingegaan het in die hemel se “allerheiligste” (let op “voorhangsel”), d.w.s. tot in sy Vader se heerlike teenwoordigheid, is ons hoop nie uitgelewer aan die storms van hierdie lewe nie. Hy wat by die Vader is, is ons Hoëpriester. Hy is die Een wat Homself vir ons geoffer het en nie net een maal ʼn jaar vir ons intree soos Aäron en die ander priesters moes doen nie. Hy is volgens die orde van Melgisedek en vir altyd Hoëpriester en tree elke oomblik vir ons in. Deur hierdie hoëpriester is ons wat na God gevlug het, vir altyd aan God Self geanker. As die dinge wat my in my hoop wil laat wankel vir my helder voor oë staan, hoeveel helderder moet dit wat God vir my gedoen het my nie voor oë staan nie?