Lees Matteus 28:16-20 <- Klik om nou te lees Teks: vers 17 Twyfel in die aanbidder se hart is ʼn realiteit. ‘n Mens is nie regtig voorberei op die laaste sinnetjie van vers 17 nie: “... hoewel party getwyfel het.” Jesus het ná sy opstanding verskeie kere aan die apostels verskyn, hulle gaan in gehoorsaamheid aan Christus na Galilea en as hulle Jesus sien, aanbid hulle hom. Maar dan hoor ons skielik dat sommige (in die oorspronklike taal is dit moontlik om te verstaan “almal”) getwyfel het. Hulle aanbid, maar terwyl hulle aanbid, twyfel hulle! Twyfel in aanbidders se harte is ʼn realiteit. Waaroor het hulle getwyfel? Ons sou eerstens kon aflei dat hulle getwyfel het oor die onwerklikheid van wat gebeur het en wat besig is om te gebeur. Tweedens kan ons aflei dat hulle getwyfel het oor hulle eie waardigheid om hierdie afspraak met Jesus na te kom. Hulle het Hom immers verloën. Hulle is onwaardig om Hom as sy dissipels te ontmoet. Derdens was hulle eie vermoëns in gedrang. Ná Petrus en die ander se oorskatting van hulle vermoëns sou hulle beslis onder die indruk gewees het van hulle eie onvermoë om in geloof staande te bly. Laastens sou die ontnugtering in hulle eie vermoëns ook gelei het tot die vraag of hulle ooit sal kan verander. Dit het reeds geblyk dat hulle vaste voornemens om getrou te bly, niks gehelp het nie. Sal hulle kan verander? Sal hulle nie maar weer in die toekoms ontrou wees nie? Ons sou sekerlik kan erken dat al hierdie soort twyfel by ons nie vreemd is nie. Hierdie twyfel lei nie tot ontslag nie. Anders as wat ʼn mens sou kon verwag, word hierdie twyfelende aanbidders nie ontslaan nie. Jesus kanselleer nie die afspraak met hulle op die berg waarheen Hy hulle bestel het nie. Hy draai nie om en gaan van hulle af weg nie. Matteus sê dat Jesus toe nader gekom het. Twyfel in die hart van die aanbidder, lei nie tot ontslag nie – Jesus kom nader na die twyfelaar. Ons Here sien die twyfelaar en kom “nader.” Ons kan Jesus se naderkom beter verstaan as ons let op hoe Hy teenoor die twyfelaars optree en wat Hy vir hulle sê. • Hy kom nader. Hy bly getrou en liefdevol al is daar twyfel in die hart van die aanbidder. • Hy bevestig dat Hy alle gesag in die hemel en op die aarde van die Vader ontvang. Die twyfelende aanbidders tree nie in eie gesag op nie, maar, as hulle aan Hom gehoorsaam is, in sy gesag. • Hy verseker hulle van sy voortdurende teenwoordigheid. In hulle eie krag sal hulle inderdaad weer faal. As hulle egter die krag van Hom wat deur sy Gees in hulle woon optree, word getroue gehoorsaamheid moontlik. • Hy gee aan die twyfelaars opdrag: “Gaan.” Hulle hoef nie te twyfel aan hulle roeping nie.