Lees 1 Petrus 4:1-11 <- Klik om nou te lees Teks: vers 10 Die reeks se hoofgedagte: Wees dankbare bestuurders van die gawes wat God gee. Preek 1: God se “bestuurders” het drie uitstaande eienskappe. 1. God se bestuurders het drie uitstaande eienskappe (4:7-8) Inleiding: Die Skrif is baie duidelik daaroor dat God aan sy kinders besondere gawes gee. In ons gelese gedeelte word beklemtoon dat ons “goeie bestuurders” van die genadegawes moet wees (v.10) Ons wil in drie preke uit hierdie gedeelte aandui hoe ons goeie bestuurders kan wees. Vanoggend wys ons op die drie sake wat Petrus in verse 7-8 van goeie bestuurders beklemtoon. 1.1 Goeie bestuurders begryp deeglik in watter tyd ons leef. Petrus begin hierdie gedeelte oor die gawes, deur te herinner dat die einde van alles (ook almal) naby is. Die bestuurders van God se genadegawes is mense wat weet dat hierdie tyd waarin ons leef, nie vir altyd sal aanhou nie. Hierdie tyd is nie al wat ons het nie. Daar kom nog ‘n ander bedeling. Deur die regte bestuur van die genadegawes wat aan elke gelowige gegee word, vertoon die gelowiges reeds iets van die bedeling wat kom. Gelowiges weet ook dat die bedeling eindig wanneer Christus terugkom. Hulle verantwoord hulle daarom ook in hulle bestuur van die genadegawes wat hulle ontvang het, teenoor die Een wat weer kom. 1.2 Goeie bestuurders van God se genade is biddende mense. Voordat Petrus spesifiek oor die gawes handel, beklemtoon hy eers dat dit belangrik is dat gelowiges kan bid. Gelowiges se emosies, denke en dade moet so wees dat dit nooit in die weg staan van ʼn biddende lewe voor God nie - hulle moet nugter en selfbeheers wees. Alleen as gelowiges in biddende afhanklikheid van God leef, sal hulle goeie bestuurders wees wat God se genade deur hulle gawes na ander laat kom. 1.3 In hulle bestuur staan liefde in die kern. In vers 8 word ʼn kernsaak uitgelig. Daar is iets wat absoluut voorrang geniet “bo” alle ander dinge en dit is die liefde. As God se bestuurders, die gelowiges, sonder liefde is, word die genadegawes wat God aan elkeen gee, geblokkeer. ʼn Duidelik voorbeeld is dat iemand sonder liefde vir God en mense, nie wil vergewe nie. Die liefdeloosheid verstop die “kanaal” waardeur God se genade na ander moet vloei. Aan die ander kant het mense wat God se liefde en vergifnis ken, self ook die vermoë om te vergeef. Die liefde maak vergifnis moontlik want dit maak dat oortredings teen jou nie meer gesien kan word nie. 2. Die gawes wat jy bestuur, kom uit ʼn besondere bron, 4:10 (Preek 2) DV volgende week. 3. Die gawes word met spesifieke doelstellings langs twee bane bestuur, 4:11 (Preek 3).