Lees 1 Petrus 4:1-11 <- Klik om nou te lees Teks: vers 10 Die reeks se hoofgedagte: Wees dankbare bestuurders van die gawes wat God gee. Preek 3: Dit is deur ons eenheid met God dat ons praat-bestuurders en diens-bestuurders van sy genade is. 1. Die eenheid tussen God en ons maak die verskil in ons bestuurderskap (vanoggend). • Die eenheid tussen ons en God is ʼn werklike eenheid. Ons is bestuurders – bestuurders van God se genade! So het ons verlede week uit vers 10 beklemtoon. In vers 11 word die rede waarom God se genade deur mense soos ons bestuur kan word. Let op: Wanneer ons “praat” (in NAV vertaal as “preek”), kom niemand minder as God deur ons aan die woord nie en as ons dien, is dit niemand minder as God wat die krag voorsien nie. Die eenheid tussen ons en God is nie ʼn kunsmatige eenheid nie. Deur die kragtige versoening wat God deur sy Seun bewerk het, het Hy ons radikaal losgemaak van die eenheid wat in ons verlede gegeld het en in die hede (deur sy Gees) ons eenheid met Hom ʼn werklikheid gemaak. • Deur ons eenheid met God, ís ons bestuurders. Omdat God ons eenheid met Hom ʼn werklikheid gemaak het, is ook ons bestuurderskap ʼn werklikheid. Ons word dus nie maar net aangestel as bestuurders van God se genade nie. Vanweë ons eenheid met Hom, ís ons bestuurders. Daar vloei bestuurders-bloed in ons are. Die genade wat aan ons in Christus bewys is, het ons in ons diepste wese verander. Nagmaal bevestig vanoggend vir jou, gelowige, hierdie werklikheid. • Ons wat bestuurders ís, sál ook bestuurders wees. Mense in wie se are bestuurders-bloed vloei, tree nie soos aangestelde amptenare op nie. Dit wat God hulle gemaak het, sál ʼn werklikheid in hulle lewe word. Gelowiges wat die genadegawes wat God aan hulle gee, nie bestuur nie, tree teen-natuurlik op. Vanoggend word jy by die Nagmaal in jou nuwe natuur versterk. Soos die kos en drank wat jy ontvang jou liggaam versterk, word jy in jou eenheid met God versterk deur die tekens wat jy ontvang –versterk om jou nuwe natuur uit te leef. Jy, Bestuurder, word versterk om bestuurder te wees. Dit blyk dat ons praat-bestuurders en diens-bestuurders kan wees. Daaroor DV vanaand meer. 2. Deur die eenheid is ons nou praat-bestuurders en diens-bestuurders (vanaand).