Lees Romeine 12:1-10 <- Klik om nou te lees Teks: vers 3 Ek offer myself bewustelik aan God en dan kom die liggaam van Christus eerste. Mense wat die ontferming van God ken, offer hulleself bewustelik. Nadat Paulus in Romeine 1-11 in volle besonderhede uiteengesit het hoe God Hom in Christus oor sy uitverkorenes ontferm het, handel hy vanaf Romeine 12 oor die heilige lewe waartoe hulle wat God se ontferming ken, geroep is. In 12:1 sê hy dat gelowiges hulleself as lewende en heilige offers behoort te gee. Hy sê dat dit ons “redelike godsdiens” (vgl. die ouer Afrikaanse vertaling) is. Uit die konteks is dit duidelik dat hy met die woorde “redelike godsdiens” aandui dat gelowiges God nie “outomaties”, dit is “sonder gedagte”, “sonder om te dink”, “meganies” moet probeer dien nie. Ons moet onsself bewustelik as offers aan God gee. In die offer van myself, kom die liggaam van Christus eerste. Dit val op dat wanneer Paulus konkreet begin handel oor ʼn lewe wat aan God geoffer is, hy eerste aandag gee aan gelowiges se optrede binne die kerk. Hy vergelyk die kerk met ʼn liggaam en dit is duidelik dat hy, soos in Korintiërs 12-14, die kerk as die liggaam van Christus sien. Wanneer ek voortdurend myself aan God as lewende en heilige offer gee, kom die liggaam van Christus eerste. Om die liggaam van Christus eerste te stel wanneer ek myself offer, moet ek: • die eenheid en verskeidenheid van Christus se liggaam verstaan. In vers 3 beklemtoon Paulus dat die gemeente ʼn eenheid is waarin ʼn verskeidenheid van gawes voorkom. Soos ʼn mens se liggaam, so is ook die liggaam van Christus ʼn eenheid. Soos die lede van ʼn mens se liggaam aan mekaar verbind is, is gelowiges ook aan mekaar verbind onder die een Hoof, Jesus Christus. Soos elke ledemaat in ʼn mens se liggaam ʼn spesifieke funksie het en die ander ledemate in die voordele van hierdie funksies deel, so deel die ledemate van Christus se liggaam ook in die verskeidenheid van spesifieke genadegawes wat die ander lede ontvang het. Eers as ek die eenheid en verskeidenheid van die gemeente so verstaan, sal ek begrip kry hoe ek myself in die liggaam van Christus aan God kan offer. • nie te veel van myself dink nie. Gelowiges word in vers 3 gewaarsku om nie ten opsigte van die gawes in die gemeente te veel te dink van hulleself nie. Twee duidelike voorbeelde hiervan is (i) dat iemand dink hy het nie ander mense se gawes in die gemeente nodig nie en (ii) dat iemand sou dink hy het al die gawes. As ek so redeneer, sal ek nie binne die gemeente myself as lewende en heilige offer aan God gee nie. • waak teen valse beskeidenheid oor die “maat van geloof” wat aan my toebedeel is. Aan elkeen is gawes toebedeel (vgl. vv. 3 en 6). Gelowiges wat in valse beskeidenheid die gawes wat hulle ontvang het, nie tot voordeel van die liggaam gebruik nie, veroorsaak dat die liggaam nie ten volle kan funksioneer nie. Met hierdie valse beskeidenheid sal ek nie myself aan God binne die gemeente offer nie. • die genadegawes wat aan my gegee is, in geloof (geloofsvertroue) uitoefen. Wanneer Paulus verwys na dit wat volgens die “maat van geloof” aan elkeen toebedeel is, gaan dit oor geloofsvertroue waarmee gelowiges die gawes wat hulle ontvang het, beoefen. Eers as ek in verhouding met God, in afhanklikheid van Hom, in vertroue op Hom en gelei deur sy Gees die gawes binne die gemeente benut, sal ek binne die gemeente myself as lewende en heilige offer aan God bring.