Lees Psalms 67 <- Klik om nou te lees Teks: vers 7a Die verspreiding van God se genade begin met ʼn besef wat tot my deurdring. Met ʼn “gewone” besef begin die verspreiding van God se genade. Daar is een sinnetjie in Psalm 67 wat vir ons duidelik maak wanneer hierdie Psalm gesing is: “Die aarde het sy opbrings gelewer” (v. 7a). Dit is gesing wanneer die oes ingesamel is. Die Psalm het Israel dus gelei om, nadat die oes ingesamel is, nie maar net voort te gaan met hulle lewe nie. Die Psalm sê as’t ware: “Stop. Kyk daar in die skure. Sien jy: die aarde het sy oes gelewer?” Hierdie is geen buitegewone gedagte wat tot hulle moet deurdring nie. Dit is selfs iets wat ʼn ongelowige ook kan besef: die aarde het sy oes gelewer. Hierdie begin-besef is egter noodsaaklik. Dit is ʼn besef wat in ons gejaag maklik by ons, soos by die ongelowige, verbygaan. Neem jy wel jou “oes” onder oë? Jou inkomste, huisvesting, gesondheid en vriendekring. Sien jy raak dat die aarde sy oes gelewer het. Vanaf die “gewone” besef, versprei God se seën verder. Die seën vind gestalte: - wanneer ek die oes verbind aan God se seën Die eerste seëning wat voortvloei uit die “gewone” besef, is die wete wat ons in vers 7b vind: “God, ons God het ons geseën.” Hierdie is geen gewone besef nie. Dit is ʼn uitsonderlike besef; ʼn besef waarin God se seën oor my sigbaar word. As ek van die oes wat die land gelewer het by die God (eintlik “my God”) kan uitkom, deel ek reeds in die rykdom van God se seëninge. - wanneer ek in afhanklikheid begin leef. Vanaf die besef dat die land sy oes gelewer het (v. 7a), vorder die gelowige tot die besef van God seën (V. 7b). Daar hou dit egter nie op nie. In vers 2 hoor ons hoe God se seën verder versprei. Gelowiges wil wat God se seën in die verlede herken, wil ook in die toekoms onder hierdie seën leef. Van hierdie seën hoor ons in vers 2 twee dinge: (i) Die gelowige besef dat God se seën nie uit verdienste ontvang word nie, maar uit “genade.” Vanuit die Nuwe Testament weet ons baie van hierdie genade. Ons ken God se genade in sy Seun! (ii) Vir die gelowige behels die seën van die Here baie meer as ʼn goeie oes. Ten diepste gaan dit om die Here wat sy vriendelike aangesig na ons toe draai (vgl. v. 22c). - wanneer ons afhanklik van God leef, lei dit tot lewegewende kennis by die ongelowige. As gelowiges in afhanklikheid van God leef, versprei God se seën verder. God se seën gaan via die gelowiges na die ongelowiges (vgl. v. 3 se “sodat”). Waar gelowiges in afhanklikheid van God leef, ontvang die ongelowiges lewegewende kennis van God en van sy magtige dade (v. 3). Dan kan dit gebeur ook hulle tot aanbidding en lofprysing kom (vgl. 4-6)