Skip to content
Menu

Lees Matteus 9:27-38 <- Klik om nou te lees Teks: vers 36 Soos die Here self, het sy arbeiders kennersoë en herderharte. Die Here se arbeiders (ons elkeen) word as verhoring op ons gebede gestuur. Jesus sien voor Hom ʼn skare mense. Hy reageer nie op die massa mense wat opgedaag het nie en ook nie op die feit dat hulle juis na Hom toe gekom het nie. Matteus (ʼn ooggetuie van hierdie gebeure) vertel dat Jesus, toe hy die toestand van die mense bemerk, sy dissipels oproep tot gebed. Hulle moet baie spesifiek bid. Hulle moet bid dat die Here sal optree. Hy moet arbeiders stuur. Die mense in hulle toestand (let ook op “oes” in v.37) het arbeiders nodig – arbeiders wat as verhoring van gebede kom. Net ná hierdie gebeure kom die verrassende: hierdie arbeiders waarvoor die dissipels moet bid, is die dissipels self! Ons vra die Here om arbeiders te stuur en dan verhoor Hy ons gebede en stuur ons – elkeen van ons! Die arbeiders kom van die Here en in hulle arbeid leer jy die Here ken Die Here se arbeiders is nie gehuurde mense nie. Hulle kom van die Here af (vgl. v. 38) en in hulle arbeid leer jy die Here self ken. Wat sal dan van die Here sigbaar word in die arbeiders se werk? Uit Jesus se optrede wat in hierdie gedeelte beskryf word, staan twee sake voorop. In die arbeiders se werk sien jy die Here se kennersoë en sy herderhart. (i) Die Here se kennersoë word in sy arbeiders sigbaar Wanneer Jesus na die skare kyk, sien Hy mense wat moeg en hulpeloos is. Hy sien agter dit wat vir die mense op die voorgrond gestaan het, ʼn groter nood. Hy sien hulle moegheid en hulpeloosheid. Die aanslae van die lewe en die laste wat op hulle gelaai is, het net te veel geword. Hulle het antwoorde gesoek en telkens betekenislose antwoorde gekry. Hulle het soos weerlose skape geword. Jesus sien egter nog dieper. Die rede hoekom hulle in so toestand is, is omdat hulle geen herder het nie. Die herders op wie hulle vertrou, dra juis by tot hulle nood. Kyk jy, Gelowige, met hierdie kennersoog na die mense om jou – die Here se oes? (ii) In die arbeiders word ook die Here se herderhart sigbaar In die Here Jesus se binneste het daar iets gebeur toe Hy die mense in hulle toestand sien. Matteus sê dat Hy innig jammer was vir hulle. Hier sien ʼn mens tot in die Here se diepste binneste - sy omgee, sy ontroerd wees en sy mee-voel. Wie so tot in die Here se innerlike gekyk het, verstaan die boodskap wat Hy bring wanneer Hy in die dorpe rondgaan en die klein plekkies besoek. Hy bring nie dieselfde kragtelose boodskap as ander herders nie. Hy bring goeie nuus – ʼn evangelie (vgl. v. 35). Dit is goeie nuus omdat Hy ʼn ander soort ryk en ʼn ander soort Koning verkondig as wat die mense ken. In die ryk wat hulle ken, is hulle belas en uitgebuit en tot slawe verander. Jesus verkondig ʼn Koning wat vry maak, beskerm binne die grootste nood en innerlik ʼn verandering bewerk sodat die burgers binne sy ryk krag en vrede het en Hom in liefde dien. Word die Here se herderhart sigbaar wanneer jy met mense, God se oes, te doen het?