Skip to content
Menu

Lees Openbaring 18:21-19:5
Teks: 19:5

Die Here hoor deur geraas heen, maar kan ons?

Inleiding: Uit die Skrif is dit duidelike dat die Here sy kinders deur baie soorte “geraas” heen hoor (vgl. bv. Lk. 8:22-25). Die vraag uit ons teksgedeelte is egter of óns, met die geraas om ons, kan hoor.

Die geraas om ons is oorverdowend
Die grootste geraas op hierdie aarde kom nie van die groot masjinerie wat die mensdom ontwikkel het nie. Die grootste geraas is die sagte en subtiele boodskap wat oor die hele aarde heen gaan dat die maghebbers van hierdie wêreld onaantasbaar is, dat hulle god is en dat onderwerping aan hulle die enigste weg is. Die valse kerk (genoem die sedelose vrou) poog met haar valse leer om te sorg dat geen ander geluid gehoor word as die boodskap van die maghebbers nie.

Deur die geraas heen klink vanuit die hemel die geluid van ʼn groot menigte.
In Openbaring 19:1 verneem ons egter dat die poging van die valse kerk om alle ander boodskappe te doof, nie suksesvol is nie. Daar klink uit die hemel die harde geluid van ʼn groot menigte. Dit is die gelowiges wat reeds gesterf het en by God is. Hulle sê uitdruklik Wie die ware Oorwinnaar is en aan Wie die ware mag behoort.

Hierdie geluid kan net sekere mense hoor en verstaan.
Dit is duidelik dat net sekere mense hierdie harde geluid deur die geraas heen, kan hoor, naamlik mense wat gekoop is. Dit is mense wat met die bloed van Jesus Christus vrygekoop is uit die slawegreep van die sonde, van Satan en sy twee helpers (die Antichris en die Valse Profeet). “Almal” van dié wat gekoop is, kan hierdie boodskap hoor – groot en klein.

Wie die boodskap uit die hemel hoor en verstaan, loof die Here
Omdat die horendes ʼn spesifieke boodskap uit die hemel hoor, tree hulle ook op ʼn spesifieke manier op. Die oorhoofse boodskap wat hulle hoor is, “Halal” en “Jah” dit is “Prys” en “HERE” (vgl. v. 1, 3, 4). Hierdie mense se totale lewe is daarop ingestel om die Here te loof. Dit sal onder andere op die volgende maniere in hulle lewe na vore kom:
(i) Hulle is nie beïndruk met die maghebbers van hierdie aarde nie en weet dat God steeds in beheer is en dat Hy op sy tyd die maghebbers se val sal bewerk.
(ii) Hulle staan die Valse Kerk teë deur uit haar uit te gaan (vgl. 18:4) en te sorg dat die ware boodskap wat sy met haar valse boodskap probeer demp, duidelik verkondig word.
(iii) Hulle gehoorsaamheid aan die Here toon deur Hom gekoop is.