Lees Johannes 2:13-25
Teks: vers 24
Die Here het nie gekom om beoordeel te word nie, maar om Homself aan beoordeeldes te verbind.
As beoordeeldes die beoordelaars wil wees, is hulle bevindings waardeloos.
By die viering van die Pasga vind daar iets “wonderlik” plaas wat geen waarde het nie. Mense het getuienis oor Jesus goed geweeg. Hulle het baie goed “gekyk.” Hulle het nie besluiteloos gebly nie, maar tot ʼn beslissing gekom. Hulle bevind dat Jesus vertrou kan word. Dan volg die skok: Jesus het nie hulle getuienis nodig nie. Hulle uitspraak is waardeloos. Jesus is nie die beoordeelde nie en die mense is nie die beoordelaars nie.
Beoordelaars se oordeel is waardeloos want hulle is steeds in gemakstoele.
Die beoordelaars by die Pasga het ewe gemaklik hulle beoordeling gedoen. Hulle het nie ag geslaan op die boodskap van die fees wat hulle besig was om te vier nie en ook nie op die boodskap van Jesus se wondertekens nie. Pasga moes enige Israeliet ongemaklik maak en hierdie ongemak moes vererger wanneer hulle begryp dat die wondertekens van Jesus getuig dat die Een oor Wie die Pasga gaan, op die fees is. Die Pasga se bloed aan die deurkosyne het getuig dat ook Israel se lewe, soos die Egiptenaars s’n oop en bloot voor God is en dat God ʼn bevinding gemaak het. Soos die Egiptenaars se bloed, moes ook die Israeliete se bloed vloei, moes ook hulle eersgeborenes sterf, moes ook hulle uitgewis word. Jesus se wondertekens moes die mense by die fees laat begryp dat Hy wat geen getuienis nodig het nie, Hy voor wie elke mens oop en bloot staan, in hulle teenwoordigheid is. Wie dit besef het, sou uit die beoordelaarsstoel geskud gewees het.
Eers in die beoordeelde se stoel kan ware geloof gedy.
Eers in die stoel van ʼn beoordeelde begryp ek:
• Wat Jesus regtig kom doen het – Hy het Hom aan beoordeeldes en ook veroordeeldes verbind.
• Wat dit vir Jesus ingehou het dat Hy Hom aan veroordeeldes verbind het – Hy, God se Eersgeborene moes in God se oordeel in.
• Wat dit vir ʼn veroordeelde beteken dat hy aan Jesus verbind is – die oordeel het by my “verby gegaan en ek word volkome vrygespreek.
• Waartoe dit lei wanneer veroordeeldes vryspraak ontvang – My getuienis is nie meer waardeloos nie. As ek sê ek glo, is dit nie ʼn mooi waardelose uitspraak nie. Dit is getuienis met gesag oor my verhouding met my Verlosser, my status wat Hy bewerk het en my lewe in diens van Hom.