Lees Ester 2
Teks: Vers: vers 10
Waar is God as sy kinders magteloos en boonop swak is in ʼn baie sterk wêreld?
Dit is nie so maklik om Hadassa én Ester te wees in ʼn baie “sterk wêreld” nie.
Die Joodse meisie wat in hoofstuk 2 vermeld word, het twee name gehad: die een, haar Joodse naam (Hadassa) en die ander, haar Persiese naam (Ester). Die eerste naam beklemtoon haar afkoms: dat sy uit die Joodse volk kom. Sy is deel van God se verbondsvolk. Die tweede naam is verbind met die wêreld waarin sy leef. Hadassa leef as Ester. Sy word, vanweë haar skoonheid saam met ander meisies deur die koninklike beamptes opgeneem as deel van die groep waaruit die koning vir hom ʼn vrou sal kies. Hierin het Hadassa geen keuse gehad nie. Soos ʼn Daniël wat as jongman met geweld geneem is en in ʼn posisie geplaas is wat hy nie gekies het nie, word ook sy deur ʼn “sterk wêreld” sonder keuse ontdek, geneem en in die vrouehuis geplaas. Hadassa is deel van die wêreld. In hierdie wêreld is sy Ester en hier geld die reëls van die “sterk wêreld” waarteen daar geen verweer is nie.
Anders as Daniël en sy vriende kies sy in opdrag van Mordegai, haar voog (ʼn ouer neef van haar) om die voorskrifte van die Ou Testament te ignoreer. Hierdie is ʼn keuse en nie ʼn aanvaarding as gevolg van magteloosheid nie. Hadassa het in swakheid nie meer die vreemdheid vertoon wat daar in haar Ester-wêreld sigbaar moes wees nie. Laat ons egter nie so maklik vinger wys nie. Wie erns maak om as Hadassa (verbondskind) in ʼn wêreld te leef waar jy Ester is, sal weet hoe sterk die wêreld is, hoe moeilik dit is om te weet wanneer om mee te doen en hoe swak ons is wanneer ons werklik Hadassa binne ons Ester-wêreld moes wees.
God se kinders is, wanneer hulle magteloos en swak is, steeds by Hom.
Uit die boek Ester is dit duidelik dat God by sy kinders is as hulle magteloos en swak is in ʼn sterk wêreld. Dit is juis die sterk wêreld se toeslaan op die magtelose meisie wat veroorsaak dat daar ʼn verbondskind as koningin in die paleis beland. Hoewel dit dus baie moeilik sigbaar was, was God in sy almag by sy kinders juis toe hierdie meisie magteloos saam met die ander meisies na die vrouehuis geneem word. God was toe al besig om vir sy volk uitkoms te bewerk en span juis die krag van die wêreld daarvoor in.
Maar God verwerp ook nie vir Ester wat geswyg het toe sy moes gepraat het nie. Bo-oor haar swakheid heen, word juis sý deur God gebruik. In haar swak-wees skitter God se groot krag en genade. God se genade kan in sulke mense (ons wat aan Hom behoort) skitter, omdat God sy Seun, die Een deur Wie God alles geskape het, “magteloos” in sy oordeel aan die kruis laat hang het. Die Een wat binne in die Ester-wêreld in gekom het en nooit deur die sterk wêreld tot ontrouheid gebring is nie, dra ons uit God se oordeel na God toe. Waar is God dus as ons magteloos en swak is binne ʼn sterk wêreld? Word ons vyande van God. Nee, ons is deur sy Seun oorgedra na God toe. Sy genade skitter in ons magteloosheid en bo-oor ons swakheid heen.