Skip to content
Menu

Lees Ester 5, 6, 7
Teks: Ester 6:1

Waar is God as my wyse optrede (in vertroue op Hom) nie die verlangde uitslag waarborg nie?

Al vertrou ek God, het ek steeds die verantwoordelikheid om wys op te tree.
Ons het verlede week daarop gewys dat Ester die Here moes vertrou en na die koning moes gaan om vir haar volk te pleit. Uit die hoofstukke wat ons vanoggend gelees het, is dit duidelik dat vertroue in die Here, nie die gelowige se verantwoordelikheid om met wysheid op te tree, uitskakel nie. (i) Ester maak seker van haar drag voor sy na die koning gaan (vgl. 5:1), (ii) haar gesprek met die koning spreek van uiterste versigtigheid (vgl. 5:4 en 7:3) en (iii) die feit dat sy twee etes reël en sorg dat Haman teenwoordig is, toon dat sy die versoek aan die koning deeglik beplan het en dat sy gesorg het dat sy op die regte tyd die versoek gerig het. Vertroue in die Here moet ons juis daartoe aanspoor om sorgvuldig met wysheid op te tree?

Wyse optrede wat ek in vertroue verrig, waarborg egter nie die verlangde uitslag nie.
Telkens is dit duidelik dat dit nie noodwendig so is dat wyse optrede nie noodwendig tot die verlangde resultate lei nie. Mordegai red die koning se lewe (vgl. Est. 2:21-23). Daar volg geen beloning nie. Inteendeel. Haman, Mordegai se vyand, word vereer en bevorder. Dit is ook telkens ʼn vraag of Ester gaan bereik wat sy wil bereik. Gaan die koning nie in woede uitbars en haar laat doodmaak as sy ongenooid voor hom verskyn nie? Gaan haar bewaker, Mordegai nie doodgemaak word voor sy haar versoek tydens die tweede ete bekend maak nie? Is sy opgewasse om iemand so magtig en met soveel invloed soos Haman teë te staan? Wat gaan die koning se reaksie wees wanneer hy hoor sy eggenote is deel van die volk oor wie hyself eintlik reeds ʼn doodsvonnis uitgespreek het? Wyse optrede wat gelowiges in vertroue op God verrig, waarborg nie noodwendig die uitslag wat die gelowiges voor bid en werk nie! Die vraag is dan: “Waar is God as my wyse optrede (in vertroue op Hom) nie die verlangde uitslag waarborg nie?”

Waar is God as my wyse optrede wat ek in vertroue op Hom uitvoer, nie die verlangde uitslag waarborg nie? Hy is betyds vir die uitvoering van sy plan.
Sonder dat God se Naam vermeld word, is dit duidelik dat Hy telkens betyds optree. Nie noodwendig op die tyd wat die gelowiges dit verwag het nie en ook nie noodwendig op die wyse waarop hulle verwag het Hy sou optree nie. Mordegai word eers ongeveer vier jaar later vergoed – op presies die regte tyd en die regte wyse. Die koning het op die regte tyd ʼn slapelose nag en soek op presies die regte plek ʼn oplossing vir die probleem, naamlik in die annale. Haman daag op presies die regte tyd op om oor Mordegai met die koning te praat. Die koning wou ook met hom oor Mordegai praat. Haman het op die regte tyd ʼn galg van die regte grootte gebou – vir homself. Haman het geen tyd om nuwe planne te maak nie – die paleisbeamptes het hom kom haal en vinnig na die paleis geneem. God is altyd betyds om sy plan uit te voer. Ook deur sy Seun was Hy betyds toe selfs die apostels gedink het dit is te laat.