Skip to content
Menu

Lees Kolossense 3:1-17
Teks: vers 4

Jou verborge lewe saam met Christus in God moet reeds nou gestalte kry.

Jy, Gelowige, het ʼn verborge lewe – ʼn lewe saam met Christus in God

Gelowige, jy is onbeskryflik intiem verbind aan Jesus Christus. Toe hy gesterf het, het jy gesterf (vgl. v. 3), toe Hy uit die dood opgewek is, is jy opgewek. Noudat Hy in volmaaktheid by God is, het jy in jou verbondenheid met Hom, ʼn lewe in God. Let op die drie sake wat ons uit ons teksgedeelte van hierdie lewe wys word: (i) dit is ʼn lewe wat “verborge” is en daarom onaantasbaar is en ook nie vir mense se oë sigbaar is nie (v. 3), (ii) dit is ʼn lewe waarin jy deel in Christus se regering en triomf (vgl. Christus wat “aan die regterhand van God sit”, v. 1) en (iii) en dit is ʼn lewe in direkte teenwoordigheid van God (vgl. “saam met Christus verborge in God).

Hierdie lewe sal ten volle sigbaar word wanneer Christus sigbaar word.

Hierdie verborge lewe wat ek saam met Christus het, sal nie altyd vir mense se oë verborge bly nie. Christus, met wie ek so nou verbind is, gaan in sy heerlikheid met die wederkoms verskyn en ons sal saam met Hom verskyn. Die lewe wat ek deur my verbondenheid met Hom ontvang het, sal sigbaar wees. Dit sal duidelik wees dat ek in sy heerlikheid deel (vgl. v. 4).

My verborge lewe saam met Christus, begin reeds in hierdie lewe gestalte kry.

Hoewel my volmaakte lewe saam met Christus ʼn verborge lewe is, begin dit reeds voor die volle verskyning daarvan in hierdie lewe sigbaar word. Alhoewel gelowiges ʼn lewe saam met Christus het, is hulle nie mense wat die lewe op hierdie aarde verag en hulle daaraan probeer onttrek nie. Hulle lewe toon egter dat hulle ʼn lewe saam met Christus het en dat hulle weet dat hierdie lewe volkome geopenbaar sal word met die wederkoms. In hulle strewes (vgl. v. 1) is dit duidelik dat hulle uit ʼn totaal ander perspektief na hierdie wêreld kyk en dat hulle ʼn totaal ander doelwit het as die ongelowiges. Hulle kyk uit die perspektief van die verheerlikte Christus. Dit wat Hy oor die toekoms bekend gemaak het, is hulle doelwit. Ook hulle gedagtes is gevul met die oorwinning van Jesus Christus en die feit dat hulle saam met Hom oorwinnaars is (vgl. v.2). Hulle optrede toon dat hulle ʼn ander lewe het (vgl. hoofstuk 3 en verder).