Lees Matteus 24:36-51
Teks: Vers 42
As ek verstaan en wakker is, sal ons Here se terugkoms die een enkele faktor wees wat nou rigting gee aan my lewe.
Dan, wanneer ons Here terugkom, is beslissend vir nou.
Die groot man van Apple en spesifiek iPod, iPhone en iPad, Steve Jobs, het gesê: “Remembering that I’ll be dead soon is the most important tool I’ve ever encountered to help me make the big choices in life.” Die feit dat die dood voorlê, was vir hierdie mens wat (volgens getuienis) Christus as Verlosser verwerp het, ʼn kragtige hulpmiddel om groot besluite in sy lewe te neem. Wat is die een enkele gebeurtenis in die toekoms wat in die hede beslissende betekenis het in ons as Christene se lewe? Die terugkom van ons Here. Sy terugkom is bepalend vir elke besluit wat ek neem, vir elke daad, elke woord, elke gedagte en elke motief in my lewe. Tog moet ons erken dat die terugkom van ons Here nie altyd hierdie beslissende plek in ons lewe inneem nie. Daarom is die opdrag van Jesus in ons teksvers uiters belangrik. Jesus beveel ons om waaksaam te bly.
Wees daarom nou waaksaam, dit is: verstaan en bly wakker.
Hoe sal die gelowige waaksaam bly? Uit ons teksgedeelte kan ons twee dinge uitlig. Die gelowige moet verstaan wat gebeur en moet wakker bly.
Verstaan wat besig is om te gebeur.
Dit is duidelik uit wat Jesus van die mense in die tyd van Noag sê, hoe belangrik dit is dat ʼn gelowige moet begryp wat besig is om te gebeur. Hy sê dat die mense in Noag se tyd “nie besef [het] wat aan die gang is nie.” Hulle het Noag die ark op droë grond sien bou en het ʼn hele aantal sake nie begryp het nie. (i) Hulle het na die ark gekyk en nie die enigste weg wat God deur die oordeel heen gegee het, gesien nie. (ii) Hulle het dag vir dag, uur vir uur normaal voortgegaan met hulle lewe en nie verstaan dat elke dag en elke uur nie maar dieselfde as die vorige is nie. (iii) Hulle het nie begryp dat daar ʼn tydstip kom wanneer dit te laat is vir omkeer nie. Jesus sê: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” Ook nou moet verstaan word wat die enigste Weg deur God se oordeel is, dat elke dag nie maar dieselfde is nie en dat daar ʼn tyd kom wanneer dit te laat vir omkeer sal wees.
Bly wakker
Om waaksaam te wees behels egter meer as om te begryp. Mense wat bestuur, begryp dat hulle nie agter die stuurwiel aan die slaap moet raak nie. Tog raak baie wel aan die slaap met katastrofiese gevolge. So kan dit maklik gebeur dat ʼn mens die feite van ons Here se terugkoms begryp, maar begin insluimer en aan die slaap raak deurdat die feite op die agtergrond skuif en naderhand geen betekenis het nie. Ek word dan soos die wêreldling vir wie gewone eet en drink genoeg is en wat nie die brood en water van die ewige lewe ken nie en wat net die gewone huwelike ken en nie ʼn band het met ons Bruidegom nie. Eers as ek waaksaam bly, sal ons Here se terugkoms die een enkele faktor wees wat rigting gee aan my lewe.