Skip to content
Menu

Lees 1 Tessalonisense 4:13-18
Teks: vers 13

Beantwoord die feitlikheid van die dood met die feite van die wederkoms.
Erken eerlik dat baie antwoorde op die dood van troosteloosheid spreek.
Dit was nog altyd so dat mense probeer het om ander wat intens deur die dood van ʼn geliefde geraak word, op allerlei wyses te troos. Wie eerlik is, sal erken dat al die betekenislose gesegdes wat ons gebruik, geen troos bring nie. Dit bied ook geen troos as jy probeer om die verskrikking van die dood te ontken of te ignoreer nie. Die feitlikheid van die dood kan net met harde feite beantwoord word.

Antwoord met die feite van die wederkoms.
In die gelese gedeelte bied die Heilige Gees aan ons harde feite waarmee ons mekaar kan troos wanneer ons die dood in die oë moet kyk (vgl. v. 18).
Ons ontvang eerstens feite uit die geskiedenis.
Paulus wys daarop dat Jesus Christus gesterf en opgestaan het. Die woord wat hy vir “gesterf het” gebruik (v. 14), staan in skerp kontras met die woord wat hy in dieselfde vers vir die sterwe van gelowiges gebruik. Hy beklemtoon dat Jesus die dood in sy volle verskrikking geken het. Hy het Godverlatenheid geken! Hierdie verskrikking kon Hom egter nie vashou nie. Jesus het oorwin en het opgestaan.
Die troos wat hierdie feite jou bied:
• Gelowiges sterf nie soos Jesus nie. Soos iemand wat gaan slaap (en ons nie treur omdat hy/sy gaan slaap het nie), ontslaap ons Geliefdes en weet ons dat hulle weer gaan wakker word.
• God gaan die gelowiges wat ontslaap het en tans lewend by Hom verkeer, deur Jesus Christus saambring met die wederkoms (vgl. v. 14 in die Ou Afrikaanse Vertaling).
Ons ontvang tweedens feite uit die mond van die Here oor die wederkoms.
Paulus het troosvolle feite in verband met die wederkoms van die Here ontvang:
(i) Dit is die Here self wat gaan terugkom (v. 16a).
Troos: Dit mag ongelooflik voorkom, maar onthou: dit is die Here self wat terugkom.
(ii) Die Here gaan hoorbaar en sigbaar terugkom (v.16).
Troos: Dit sal geen geheime “wegraping” wees soos soms beweer word nie.
(iii) Die opstanding sal op bevel van ons Here wees (v. 16).
Troos: Elkeen wat aan Hom behoort het, sal in heerlikheid opstaan.
(iv) Al die gelowiges oor die eeue sal saam die Here tegemoet gaan in die lug (v. 17).
Troos: Ons, en ons geliefdes wat gelowiges was, sal saam met al God se kinders verenig wees.
(v) Ons sal dan altyd by die Here wees.
Troos: Die mag van die sonde, die dood en die duiwel sal nooit weer verskrikking in die gelowiges se lewe saai nie.