Lees Genesis 46:1-27
Teks: Genesis 46:3
Naby die Verbondsgod leef ek vry van grense waarvan Hy my vrygemaak het.
Daar is grense wat die vryheid wat God aan jou gee, kan beperk.
Jakob is oppad na Egipte, na sy geliefde seun Josef toe. Net voor hy Kanaän verlaat, by Berseba, wat op die grens van Kanaän lê, stop hy eers. Jakob is in twee opsigte by ʼn grens. As hy ná Berseba, die grens oorsteek, gaan hy eerstens die onbekende binne. Hy moet deur die woestyn en dan onder ʼn wêreldmag gaan leef, ʼn oormag wat hom en sy nageslag maklik kan verswelg. Tweedens is Jakob ook op ʼn ander manier by ʼn grens. Hy is by die grens van die land wat God aan Abraham en sy nageslag beloof het. God het sy pa, Isak uitdruklik verbied om hierdie grens oor te steek (vgl. Gen. 26:2) en Lot se vroeëre keuse om buite die land Kanaän te gaan woon, het katastrofiese gevolge gehad (Gen. 13:12 en 19).
Die Here gee egter aan Jakob by Berseba opdrag om die grens oor te steek en sonder vrees na Egipte te gaan. Nou mag Jakob nie meer dat hierdie grens in sy pad staan nie. Hy het nou opdrag om die grens oor te steek. Daar kan ook in ons lewe grense wees wat die vryheid wat God aan ons gee, inperk. Dit kan grense wees soos vrees vir die onbekende of grense van “mag nie en moenie” wat God nie beveel nie. Juis in hierdie tyd van groot veranderings, moet ons hierdie grense waarvan God ons vrygemaak het, herken en ook die beperking wat dit op ons plaas.
Leef naby die Verbondsgod wat nie deur grense beperk word nie.
Die opmerklike is dat Jakob nie maar net by Berseba stop om ʼn bietjie moed bymekaar te skraap nie. Hy offer. Die Here het Jakob deur vele beproewings tot geloofsvolwassenheid gelei. Omdat hy geleer het om naby die Here te leef, hoor hy goed wat die Here hom beveel. Hy hoor wanneer die Here:
• duidelik maak dat Hy nie deur grens beperk word nie;
• hom verseker dat Hy by hom sal wees in Egipte en
• sal sorg dat die tyd in Egipte nie maar net ʼn tyd van oorlewing sal wees nie.
Om naby die Verbondgod te leef, is ʼn voorvereiste om grense te kan oorsteek waarvan God ons vrygemaak het.
Leef daarom in vryheid.
Omdat ek deur Christus verlos is en die Heilige Gees ontvang het, kan ek hoor watter grense God self in sy Woord stel en ook watter grense ek in opdrag van Hom moet oorsteek.
Deur die Gees:
• het ek die krag en moed om grense oor te steek
• het ek die wysheid om gehoorsaam aan Hom op te tree wanneer ek grense oorsteek
• Oorleef ek nie net wanneer ek grense oorsteek nie.