Lees Daniël 7:13-14 en Markus 10:35-45
Teks Markus 10:45
Omdat die Seun van die mens se koms so radikaal anders was, is ons radikaal anders.
Inleiding: Ons begryp dikwels nie hoe radikaal Jesus Christus se koms na hierdie wêreld teen menslike verwagtinge ingaan nie. Ons begryp ook nie altyd hoe radikaal die gevolge van sy koms vir mense is wat aan hom behoort nie. Wanneer Jesus in Markus 10:45 verduidelik waarom Hy gekom het, en Hy verwys na Homself as “die Seun van die mens”, stel Hy duidelik hierdie radikale andersheid van sy koms aan die orde. Die woorde “Seun van die mens” is ʼn duidelike verwysing na Daniël 7:14 waar gepraat word van die mag en heerlikheid wat die “Seun van die mens” sal hê. Wie van hierdie heerlikheid gelees het, sou ten minste drie verwagtinge oor die koms van die Seun van die mens kon koester. Uit wat Jesus van die doel van sy koms sê, is dit egter duidelik dat die werklikheid radikaal anders is as hierdie verwagtinge. Ook die gevolge van die koms van die Seun van die mens is radikaal anders as wat ʼn mens sou verwag.
Verdraaide verwagting uit Dan 7:14: Die Seun van die mens sou gedien word.
Die werklikheid: Hy kom om te dien.
Die gevolge: Jy word ʼn vreemde dienaar op hierdie aarde.
Nagmaal: Hierdie is die fees vir dienaars wat gevoed word deur Hom wat gedien het sodat hulle met hulle vreemde diens kan volhard.
Verdraaide verwagting uit Dan 7:14: Die Seun van die mens se lewe is onaantasbaar.
Die werklikheid: Hy gee sy lewe.
Die gevolge: Jy leef nie meer onder ʼn doodsdreigement nie.
Nagmaal: Hierdie is die fees vir vrymoedige mense wat deur Hom gevoed word wat sy lewe gegee het sodat hulle met sekerheid kan leef.
Verdraaide verwagting uit Dan. 7:14: Die Seun van die mens sal mense se slaafsheid gebruik.
Die werklikheid: Hy verlos mense uit hulle slaafsheid met dié losprys.
Die gevolge: Jy is geen slaaf meer nie.
Nagmaal: Hierdie is die fees van vry mense wat deur Hom gevoed word – deur Hom wat sy lewe as losprys gegee het sodat hulle as vry mense kan leef.