Skip to content
Menu

Lees Spreuke 20:1-17

Teks Spreuke 20:4

Hulle vir wie God in die mees ongunstigste omstandighede “geploeg” het, let noukeuring op hulle ploegwerk.

Mense benader die nuwe jaar dikwels baie vroom, maar soos luiaards.

ʼn Luiaard, sê ons teksvers, verwag ʼn oes al het hy nie in die saaityd geploeg nie. Is dit nie ook hoe mense soms die nuwe jaar benader nie? Hulle sien vroom op na die Here dat Hy in die nuwe jaar voorspoed in hulle lewe sal gee. In die jaar wat verby is, toe daar geleentheid was om die lande te ploeg en te bewerk, het hulle niks gedoen nie. Hulle verwag byvoorbeeld dat hulle verhoudinge met ander sal verbeter, dat hulle sukses sal bereik in hulle werk of studies, dat hulle ʼn lewende verhouding met die Here sal hê, maar soos die luiaard van ons teksvers, verwag hulle hierdie oes sonder dat hulle in die saaityd gearbei het.

 

God wat op die mees ongunstigste omstandigede geploeg het, het sy kinders verander.

Wat mag die gelowige dan in die nuwe jaar van die Here verwag? Dit is tog onbybels om te sê dat die Here voorspoed gee aan dié mense wat hulle eie voorspoed bewerk? Die spreuk in ons teksvers leer beslis nie dat ons voorspoed of teëspoed van onsself afhang nie. Soos al die ander spreuke in die boek Spreuke, handel ook hierdie spreuk oor ʼn lewe voor die HERE (vgl. Spr. 1:7). Om nie in saaityd te ploeg nie, was nie vir die Israeliet net ʼn persoonlike saak nie. Die Israeliete het geweet dat dit die HERE is wat hulle uit Egipte gelei het en Kanaän aan hulle gegee het. Om die land te ontvang en daar te arbei, was nie hulle ploegwerk nie.  Dit was die ploegwerk van die HERE.

 

Hierdie werk het die HERE nie in gunstige omstandighede gedoen nie. Ondanks die volk se ongeloof, opstandigheid en moedswilligheid het die HERE Hom oor hulle ontferm en hulle tot in Kanaän gebring. Hoe dwaas sou dit nie vir ʼn Israeliet wees om in luiheid nie te ploeg en te saai wanneer die Here die reëns gee nie?

 

Ook ons ken die “ploegwerk” van die Here in sy Seun. Ons ken die ongunstige omstandighede waaronder Hy hierdie werk gedoen het. Hy het sy Seun gegee toe ons nog sondaars was (vgl. bv. Rom. 5:5-8). Hulle vir wie God hierdie “ploegwerk” gedoen het, is ook deur God verander. Deur die Heilige Gees lewe hulle nie soos luiaards nie. Hulle lewe nou voor God en let daarom op hulle “ploegwerk.”

 

Let in 2012 op jou ploegwerk deur:

  • daarmee erns te maak dat jy voor die Here leef,
  • te begryp dat die Here hierdie jaar geleentheid gee om te ploeg en
  • seker te maak dat jy nie half ploeg nie.