Lees 2 Tessalonisense 2
Teks: vers 2
Hou jou by die geopenbaarde feite aangaande die wederkoms sodat jy sonder verwarring en kommer daarna mag uitsien.
ʼn Gebrek aan feite aangaande die wederkoms lei tot verwarring en kommer.
Die naïwiteit van mense dwars oor die wêreld wat die afgelope tyd begin glo het dat die wêreld nou gaan vergaan, het ʼn mens verstom. Baie van hierdie mense is ernstige gelowiges. Hoekom raak sommige Christene so gou verward en word hulle so maklik van stryk gebring? Paulus se eerste lesers is verwar deur ʼn profetiese uitspraak of ʼn preek of ʼn brief wat sogenaamd van Paulus-hulle afkomstig sou wees (v. 2). Omdat hulle getrou die Here terug verwag het, het hulle die boodskap wat in soveel geloofwaardigheid verpak was, aanvaar. Hulle het begin glo dat die dag van die Here aangebreek het. Die fout wat hulle in hulle naïwiteit gemaak het, is om nie by die feite wat aangaande die wederkoms aan hulle bekend gemaak is, te hou nie (vgl. v. 5). Alleen as gelowiges hulle hou by die geopenbaarde feite aangaande die wederkoms, sal hulle fyn kan onderskei wanneer mense aangegryp word deur allerlei boodskappe oor die wederkoms wat oor die wêreld ingestuur word.
Hou jou dus by die geopenbaarde feite aangaande die wederkoms.
In ons gelese gedeelte openbaar die Gees aan ons belangrike feite aangaande die wederkoms:
– Christus gaan inderdaad kom en ons gaan met Hom herenig word.
Paulus probeer nie sy lesers oortuig dat Christus nie meer terugkom nie. Sy lesers moes steeds met gespanne afwagting die Here inwag. Paulus lig een heerlike waarheid aangaande die wederkoms uit (vgl. v. 1). Wanneer Jesus terugkom, gaan ons met Hom “herenig” word (vgl. ook 1 Tess. 4:17). Die feit dat gelowiges hulle nie laat verwar oor allerlei boodskappe oor die wederkoms nie, beteken nie dat hulle nie meer seker is dat die Here terugkom nie. Gelowiges sien met groot verwagting uit na die wederkoms en bid daarvoor.
– Die wettelose moet eers verskyn.
Vir die verwarde Tessalonisense word beklemtoon dat een groot gebeure eers moet plaasvind alvorens die wederkoms sal plaasvind: die “wettelose mens” moet eers verskyn. Die volgende feite aangaande die wettelose mens word vir ons in die gedeelte geopenbaar: (i) Voorlopers van die wettelose mens is reeds in die geheim aan die werk (v. 7) en dit sal uitmond in ʼn persoon wat die wettelose sal wees (dit kan amper vergelyk word met die menswording van Christus). (ii) Die wettelose mens sal al sy voorgangers in arrogantheid uitstof. Hy sal voorgee dat hy God Self is (v. 4). (iii) Hy sal baie mense mislei met krag wat hy van die Satan verkry (v.9-10). Hy word tans deur “een” teruggehou – moontlik word verwys na die feit dat Satan nog nie daarin slaag om die ongelowiges saam te snoer nie (vgl. v. 6-7). (iv) Hy is bestem om vernietig te word (vgl. v. 3 en 8).
– Ware gelowiges sal nie deur die wettelose mens verlei word nie.
Paulus gee ʼn klompie eienskappe van mense wat weerloos sal wees teen die wettelose mens. Dit is mense wat die evangelie gehoor het, maar dit nie aanvaar het nie. Hulle het die Here van die Blye Boodskap nie lief nie (vgl. v. 10) en ʼn lewe van ongeregtigheid verkies (v. 12). Die ware gelowige sal nie deur die wettelose mens verlei word nie.
– Ook die wettelose mens en sy volgelinge is in diens van God.
In die hele gedeelte waarin oor die wettelose mens gehandel word, beklemtoon die Heilige Gees vir ons dat God in beheer bly. Dit is God wat die wettelose mens bestem vir die oordeel (v. 3, 8) en God gebruik ook die ongeloofskeuse van mense om hulle tot die oordeel te bring (v. 11-12).