Skip to content
Menu

Lees 1 Petrus 1:1-9

Teks: vers 8-9

Deur beproewings sorg God dat daar heerlike bevindings oor my geloof gemaak sal word wanneer Christus sigbaar word.

 

Mense aan wie God ʼn nuwe lewe geskenk het, word nie van beproewings gespaar nie.

ʼn Mens moet baie versigtig wees dat jy nie goedkoop antwoorde gee aan gelowiges wat lyding ondergaan nie. In ons teksgedeelte gee die Here aan ons ʼn antwoord waarna ʼn mens fyn moet luister as jy dit werklik wil verstaan. Die mense aan wie hierdie antwoord eerste gegee is, was mense wat ter wille van geloof vervolg is. Dit was nie so maklik om hierdie lyding wat hulle ondergaan het, te verstaan nie. Hoekom moes hulle, terwyl hulle kinders van God is, terwyl hulle dan onder sy sorg is en Hy hulle met sy almag kan beskerm, tog nog soveel ly? En hierdie mense aan wie hierdie brief eerste geskryf is, was ware gelowiges. Petrus sê duidelik in 1:3 dat God in sy groot ontferming aan hulle ʼn nuwe lewe geskenk het deur die opstanding van Jesus Christus. Hy sê ook in 1:5 dat hulle deur die krag van God veilig bewaar word. En tog word hier gesê dat dit nodig mag wees dat hulle bedroef gemaak word (vgl. v. 7). Mense aan wie God ʼn nuwe lewe geskenk het, word nie van beproewings gespaar nie.

 

Deur beproewings gee God besondere sorg aan dit wat kosbaarder is as goud.

Hoekom sou God dit dan nodig ag dat gelowiges in allerlei beproewings kom? Die geloof wat God aan sy kinders gegee het, is vir Hom baie kosbaar – kosbaarder as goud. Soos wanneer mense wat in Petrus se tyd ʼn stuk goud ontdek het, vuur gebruik het om die onsuiwerhede uit die goud te haal, gebruik God beproewings in ons lewe om die egtheid van ons geloof na vore te bring.  Die beproewings in ons lewe is dus God se besondere sorg aan dit wat vir Hom kosbaarder is as goud.

 

Wanneer Christus sigbaar word, sal God se besondere sorg uitloop op heerlike bevindings aangaande my geloof.

Petrus beklemtoon dat daar in die toekoms deur God se sorg wonderlike bevindings aangaande ons geloof gemaak sal word.  Dit sal gebeur wanneer Christus met sy wederkoms sigbaar sal word. Daar sal bevind word dat ons geloof lof, eer en heerlikheid waardig is (v. 7). Hierdie bevinding het alles te doen met die tyd toe Christus nie sigbaar was nie – die tyd toe God deur beproewings besondere sorg aan ons geloof bestee het. Aaklige onsuiwerhede soos om Christus maar net met die mond te bely, of ʼn onwilligheid om onder druk aan Hom gehoorsaam te wees of om geen persoonlike verhouding met Hom te hê nie, word deur die smeltkroes van beproewings aan die kaak gestel en verwyder. Deur die beproewings leer God ons en versterk Hy ons om Christus, wat ons nie kan sien nie, te vertrou (in Hom te glo, v. 8) en Hom lief te hê (v. 8).  Geen normale mens kan hom oor lyding verbly nie.  Gelowiges kan hulle egter uitermate verbly oor dit wat God deur lyding bereik (vgl. v. 8-9).