Skip to content
Menu

Wie deur die Gees helder sien, bely ook helder.

Lees Johannes 1:19-42

Teks: vers 29

Die Gees is die een wat my helder laat sien.
Ons het juis in hierdie tyd waarin ons leef mense nodig wat helderheid oor die waarheid het. Ons leef immers in ʼn tyd waarin dinge vir mense so troebel geword het, dat hulle geen hoop meer het om helderheid te kry oor wat die waarheid is nie. Ook die hoop om te weet Wie God is en hoe Hy gedien moet word, is laat vaar. In hoop-loosheid word nou gesê dat daar geen vasstaande waarheid meer is nie. Elke mens se waarheid, is nou vir daardie mens die waarheid. Om ʼn waarheid te verkondig wat vir almal geldend is, is nou onaanvaarbaar. Wanneer Johannes die Doper volgens ons gelese gedeelte uitroep: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, is dit duidelik dat hy baie helderheid het. Hy sê hy het nie voorheen helderheid gehad nie (vgl. v. 31). Deur die Gees het hy egter helderheid gekry (vgl. v. 32). Hoewel die wyse waarop die Gees aan Johannes helderheid gegee het, onherhaalbaar is, is die Heilige Gees steeds die Een wat aan gelowiges helderheid gee. Soos Johannes deur die Gees kon sê dat hy self gesien het (v. 34), lei die Gees ook elke gelowige om te sien – helder te sien!

As ek deur die Gees sien, is daar ook helderheid in my belydenis.
Dit is duidelik dat Johannes deur helderheid wat hy van die Gees ontvang het, ook helder kon bely. Wie helder sien, bely ook helder.
Deur die Gees is my belydenis so helder dat:

dit geen twyfel laat oor God se Gestuurde nie
Johannes wys Jesus aan as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Hy is die Een van Wie die paaslam van die Pasga (Eks 12-13), die lam van die daaglikse offer (Num. 28:4) en die lam van Jesaja 53 gespreek het. Hy is die ware en enigste Verlosser wat werklik die sonde wat tussen God en die mense oor Wie God Hom ontferm het, kom wegneem het (vgl. Joh. 1:29).

dat daar nie onsekerheid sal bestaan oor my status nie.
Hoewel Johannes die Doper ʼn heerlike roeping gehad het, was daar by Hom geen twyfel oor sy eie status nie. Hy maak dit duidelik dat hy net die “stem” (vgl. 1:23) is wat roep. In vergelyking met die Lam wat hy aanwys, is hy minder as ʼn slaaf wat gewoonlik die band van sy meester se sandaal losgemaak het (vgl. 27). Hy doop net met water wat maar net ʼn teken is. Die Een wat hy aanwys, is egter die Een wat doop met die Gees. Hoewel Johannes hierdie totaal nederige posisie het , het hy egter ook die hoë status van ʼn begenadigde – iemand wie se Sonde deur die Lam weggeneem is. As ek deur die Gees helderheid het, sal ek ook helderheid oor my status hê.

dit dringende aandag opeis.
Omdat Johannes die Doper deur die Gees helderheid gehad het, eis sy belydenis dringende aandag op. Selfs die afvaardiging wat hom moes kom ondersoek, word gekonfronteer met die eis dat ook hulle die pad gelyk moet maak vir die Koning wat gearriveer het. Sy aanwysing eis ook die aandag van andere (vgl. 1:37). Wie deur die Gees helderheid het, sal so helder bely dat dit aandag opeis.