Skip to content
Menu

Evangelisasie-aksie

Groep 7: Sosiale Hulpverlening Tshwane.

Die doel van hierdie omsendskrywe is om lidmate kortliks in te lig oor die werksaamhede en beplande aksies van hierdie groep. Spasie laat nie `n volledige beskrywing toe nie maar oor die volgende paar weke gaan ons meer  inligting bekendstel sodat almal volledig ingelig, gemotiveerd vir hierdie saak is en betrokke wil raak.

Hierdie groep is getaak om geleenthede te identifiseer binne  die Tshwane gebied waarby ons as gemeente betrokke kan raak om  d.m.v sosiale hulpverlening, deure oop te maak vir envangelisasie. Die doel is om instansies te identifiseer wat behulpsaam kan wees met skenkings (finansieël, goedere, voedsel,medisyne, ens.) en logistiek. Verder, om wyses te vind om evangelisasie  te integreer met sosiale hulpverlening.

Bybelse opdrag:

Matteus 28 verse 19+20: “Gaan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels…….” Handelinge 4 verse 32-35 wat handel oor onderlinge mededeelsaamheid:  “….Die apostels het kragdadig getuig…….” en  “Nie een van hulle het gebrek gelei nie…..”

Kernbeginsels:

Dit is `n voorvereiste dat hulpverlening sal saamval met die verkondiging van die Evangelie. Die einddoel van hulpverlening is om mense na die Here toe te lei. Aksies wat aangepak word moet volhoubaar wees en nie “kits-oplossings” wees nie. Binne ons gemeentegebied en binne Tshwane is daar geweldig baie geleenthede om betrokke te raak. Ons navorsing het egter duidelik uitgewys dat ons nie op ons eie projekte moet aanpak nie maar eerder saamwerk met instansies wat reeds oor die nodige infrastruktuur beskik en `n bewese geskiedenis het van werk in hierdie veld.

Hierdie aksie vorm deel van die GKSA se Omkeerstrategie en moet ‘n bydrae lewer om ons weer ‘n “kerk in aksie” te maak. Dit is derhawle baie belangrik om soveel moontlik gemeentelede van GK Waterkloofrand (oud en jonk) betrokke te kry.

Gesig van die Gelowige: Wat sê ons “plakkaat” aan die wêreld daarbuite? Dit moet duidelik lees: “Ons gee om!”.

Behoeftes:

Daar is twee behoeftes wat aangespreek moet word nl. Geestelik ( Honger na God se Woord)  en Liggaamlik

( Honger kos, klere, huisvesting ens).

 

Aksies:Om af te skop is daar besluit op twee aksies nl .             

1.  Kospakkie projek:

Die doel van hierdie projek is om te dien as “ysbreker”.    Hierdie gemeente is bekend daarvoor dat ons `n oophand het wanneer dit kom by versorging van armes. Baie van hierdie skenkings is egter “onpersoonlik” want dit kom in die vorm van finansiële bydraes en goedere wat by die kerk afgelewer word en deur iemand anders versprei word.

Met die Kospakkie-projek is die doel dat die lidmaat direk sy skenking oorhandig aan die ontvanger daarvan en die geleentheid skep om vir daardie persoon te sê “Ek bid vir jou dat die Here jou sal seen”.(Ons doen dit daagliks in ons werk en wandel maar ons het net nog nooit evangelisasie daaraan gekoppel nie).

 Hou hierdie spasie dop vir meer inligting!

 2.  Die Wolmer Gemeenskapsprojek.

Daar is meer as 20 000 blanke mense wat in Pretoria en omgewing in  plakkerskampe woon. En nog meer wat in formele huisvesting woon maar onder haglike omstandighede. Wat die totale aantal mense van alle bevolkingsroepe is, is onbekend. Vraag is, waar begin `n mens met hulpverlening?

Ons gemeente is reeds betrokke by die Wolmer Gemeenskapsprojek en daar is besluit dat dit een van die instansies is waarby ons kan inskakel om hulp te verleen en om evangelisasie te doen.

Meer inligting sal in die komende weke verskaf word van wat nodig is en hoe ons lidmate betrokke kan raak.

Navrae:  Indien u intussen enige navrae het of gedagtes het wat u wil deel is u welkom om met Ouderlinge  Rudi Delport  (082 881 2741. Epos:   rudi@bxb.co.za) of Jan du Preez  (082 576 7070. Epos:  jandupreez@telkomsa.net)  te skakel.