Skip to content
Menu

Evangelisasie-aksie

Groep 7: Sosiale Hulpverlening Tshwane.

In ons vorige inligtingstuk het ons genoem dat ons drie  aksies beplan om vanuit ons gemeente hulp te verleen aan hulpbehoewende mense in die Tshwane gebied met die oog op evangelisasie. Die projekte is :

1. Ondersteuning aan die Wolmer Gemeenskapsprojek

2. `n Kospakkie projek waar etes aan werkloses verskaf word

3. Om meel aan armes te verskaf sodat hulle instaat is om `n basiese ete voor te berei.

Vandag wil ons bietjie agtergrond gee oor die Wolmer Gemeenskapsprojek en wat ons as gemeente en afsonderlike lidmate kan doen om uit te reik na hulpbehoewende mense.

Ons gemeente ondersteun al `n geruime tyd die Wolmer Gemeenskapsprojek deur klerasie wat ons op `n deurlopende basis , en ook voedsel, wat ons periodiek insamel vir die projek.

Die projek word deur verskeie kerkgroepe en welsynsorganisasies ondersteun en word op `n goed georganiseerde basis bedryf vanuit `n perseel binne die Wolmer woongebied. So bv. lewer hulle die volgende materiële bystand aan armes in die gebied:

* `n Daaglikse gekookte middagete aan meer as 100 kinders

* Verskaffing van groente elke Vrydagmiddag aan gesinne

* Ongeveer 1200 kospakkies per jaar (soos dié wat ons gemeente ook verlede jaar ingesamel het, nl.  basiese voedsel vir `n gesin per maand)

* 9000 broodpakkies per jaar en 2800 liter sop per jaar

* 1000 stelle klere per jaar, skoolklere en ook komberse

* Sop en brood een keer per week by die Provinsiale Kliniek

* “Bunny Chows” 5 dae per week aan sowat 150 werklose persone

Hierdie is maar net `n opsomming van die werk wat gedoen word. Daar is ook dienste deur professionele persone ( spraak- en arbeidsterapeute, sielkundige en maatskaplike werkster). Hulle help met werkverskaffing, bedryf `n naskoolsentrum vir 60 kinders en pre-primêre klas vir 20 kinders ( kosteloos want hierdie mense kan dit nie bekostig nie). Daar is `n tienerklub en `n baie aktiewe Vroue Landbou Unie-tak (VLU) waar mense vaardighede aangeleer word.

In kort, hier word wonderlike werk gedoen met min hulpmiddele. Die mense wat hier werk is Gelowiges wat op hierdie wyse God se liefde op tasbare maniere oordra.

Hoe kan ons as gemeente betrokke raak?

Die nood is hoog en elke skenking word waardeer en met groot vrug aangewend om die lot van armes te verbeter.

Ons wil dit egter binne die gemeente koördineer en sal  op geordende wyse projekte loods om te help. Lidmate kan egter voortgaan om goedere, nie-bederfbare  kos en klere by die kerk af te gee. Ons sal dit insamel en aflewer of die organiseerders van die Wolmer Gemeenskapsprojek sal dit kom afhaal.

As vertrekpunt gaan ons twee kleiner projekte loods nl.

  1. 1.    Die insameling van gebruikte winkelsakke ( die sg. Checkers of Pick&Pay sakke). Hierdie sakke word gebruik om voedsel en groente aan armes te versprei en daar is `n groot tekort daaraan.

            2.   Die insameling van plastiekbakkies (bv.  margarine- en roomys bakkies en jogurt houers – van 250g margarine tot 5 liter roomys houers met deksels). Hierdie houers word gebruik om kos soos bv sop te vries en te versprei aan honger mense. Enige tipe houer sal gebruik word.

Ons sal 2  blou plastiekmandjies in die saal plaas waarin lidmate die items kan plaas. Ons wil graag sien dat ons kinders aktief in hierdie insameling betrokke raak en dat hulle die outjies is wat in die huishouding die houers en sakke bymekaar maak en Sondae by die kerk in die mandjies kom plaas.

Hierdie projekte is deurlopend want die behoefte hou nooit op nie.

Wat kan nog gedoen word?

Ons beplan `n voedsel insamelingsprojek vir die vakansie seisoen en sal binnekort die behoefte lysie aan lidmate deurgee. Dis wonderlik om te dink dat `n gesin vir  ongeveer R500 per maand basiese voedsel en huismiddele kan ontvang.

Verder is daar deurlopend behoefte aan goedere soos seep, tandepasta en –borsels, toiletpapier, weggooibare doeke vir kinders en bejaardes, klere vir volwassenes en kinders, beddens en matrasse, komberse, ens. ens.

Voordat u enige item weggooi, dink eers daaraan of dit nie dalk die nood in Wolmer kan verlig nie. Groot items soos yskaste, wasmasjiene, ens.,  sal afgehaal word. Die enigste voorwaarde is dat dit in werkende toestand moet wees.

Vir navrae kan u met Nienke vd Walt by die kerkkantoor skakel of met Rudi Delport (082 881 2741) of  Jan du Preez (082 576 7070)