Skip to content
Menu

18 April 2014  Gesamentlike diens GK Alkantrant en GK Waterkloofrand

Lees Matteus 27:27-56        Teks: verse 41-43    Prediker: Dr. Douw Breed

Tema: Ook ons skud by die kruis die kop, maar in verwondering en in dankbaarheid.

 Dit is juis die kruis wat die mens in sy dwaasheid ontmasker.

Die mense van die Sanhedrin (priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde) was anders as die verbygangers wat ʼn slagspreuk aangegryp het (vgl. v. 39-40) om met Jesus te spot. Hulle was ook anders as die misdadigers (vgl. v. 44) wat saam met Jesus gekruisig is en wat in hulle gespot blote napraters was. Die mense van die Sanhedrin is die een en sewentig “wyses” van die volk.  Dit is die mense wat God se dade in die geskiedenis moes verstaan en vir die volk duidelik moes maak wat God se wil is. Hierdie “wyses” interpreteer by die kruis drie sake aangaande Jesus: Jesus se redding (waarskynlik die wonders van gesondmaking) van ander mense (v. 42a), Jesus se status as koning van die Jode (v. 42b) en sy status as die Seun van God (v. 43). In hulle dwaasheid wys hulle daarop dat hierdie “Redder” nie Homself kan red nie, dat hierdie “Koning” nie van die kruis kan afkom nie en dat hierdie “Seun” van God nie deur die Een op Wie Hy vertrou het, gered word nie. By die kruis word dit duidelik dat die wyses glad nie die ware diepte van die volk se ellende en die onmeetbaarheid van God se genade en verlossing begryp nie. Die kruis ontmasker kopskuddende “wyses” as “dwase.”

Ware wyses skud ook die kop, maar dan in verwondering en dankbaarheid.

Die Mens wat so “weerloos” daar hang en wat geheel en al nie na ʼn redder lyk nie, is juis in sy weerloosheid besig met ʼn magtige reddingsdaad.  Hy red mense wat in totale weerloosheid binne God se oordeel hulle verdoemende skuld sou moes erken en sonder enige verweer vir ewig die verskrikking van God se oordeel moes dra.

Ons skud in verwondering en dankbaarheid die kop, want die Een wat vanweë sy totale onskuld Homself volkome sou kon verweer en Homself kon red, bly weerloos aan die kruis hang in die plek van ons wat geen verweer het nie.

Aan die kruis lyk Jesus Christus nie na ʼn koning nie. Daar is niemand van sy “ryk” oor nie.  Hulle het gevlug en Hom in sy diepste vernedering alleen gelaat. Verflenter en bebloed bly Hy daar hang – tot die dood kom. Maar juis in daardie eerlose toestand staan Hy in die plek van hulle wat vanweë hulle ontrouheid uit hulle koningsheerlikheid verwyder is en wat slawe van die Bose en die sonde geword het. Hy, die ware Koning, word deur God van alle eer en heerlikheid gestroop om eerlose slawe tot konings te verhef.

Ons skud in verwondering en dankbaarheid die kop, want Hy wat waarlik Koning is, laat Hom van sy koningsheerlikheid stroop om ons uit ons eerlose slawetoestand uit te haal en ons konings te maak wat God dien en oor die Bose en die sonde regeer.

Die Seun word nie deur sy Vader van die kruis gered nie. Die spotters is reg: die Vader het daardie Mens aan die kruis verlaat. Hy het Hom egter nie, soos die spotters gedink het, verlaat omdat Hy nie werklik die Vader se Seun is nie. Juis omdat die Verlatene God se Seun is, kan Hy “kinders van God se toorn” se status  verander en hulle “kinders van God” maak.

Ons skud in verwondering en dankbaarheid die kop, want die Seun van God dra die volle toorn van God en verander ons van kinders van die toorn tot kinders van God