Met die oog op Donderdag 15 Februarie se Bybelstudie doen Groepe 1 (8.30) en 3 (18.30) die volgende voorbereiding :
Lees 1 Petrus 2:18-25 in die Direkte Vertaling
Gee aandag aan die volgende:
- Opdragte wat in daardie tyd gegee sou word aan slawe (huisbediendes), moes via die slawe se eienaars gedoen word. Wat sê dit dat Petrus hier direk aan die huisbediendes (slawe) skryf?
- Dink u dat Petrus eintlik die verskriklike slawebedryf van daardie tyd goedgepraat het met sy opdrag aan die slawe?
- Aan watter soort werkgewers moes die huisbediendes onderdanig wees?
- ‘n Mens kan duidelik uit Petrus se opdragte aflei dat die huisbediendes nie alle opdragte van hulle werkgewers moes gehoorsaam nie. Motiveer uit vers 19.
- Die huisbediendes moes “met groot ontsag” onderdanig wees. Aan wie, dink u, moes hulle groot ontsag (letterlik: “vrees”) betoon in hulle onderdanigheid aan die werkgewers?
- Watter soort lyding behoort ‘n gelowige nooit te ondergaan nie? (v. 20a)
- Wat bedoel Petrus met die sinnetjie: “dit is genade by God”?
- Christus het deur sy lyding vir ons ‘n voorbeeld nagelaat. Wat behoort ons, volgens vers 21, te doen wanneer ons onregverdig ly?
- Vers 22-23 beklemtoon hoe ons Christus met ons WOORDE moet navolg wanneer ons onregverdig aan lyding onderwerp word. Motiveer.
- Vers 24-25 leer hoekom ons wel Christus KAN navolg wanneer ons regverdig ly. Motiveer.