Riglyne vir die Bybelstudie met die oog op Sondag 28 April 2019
Lees Galasiërs 5:11-18 deur soos die hier onder weergegee word/
11 Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!
12 Daardie mense wat so daarop aandring dat julle julle ook moet laat besny, wil maar net uiterlik ‘n goeie indruk maak, sodat hulle nie vervolg sou word ter wille van die kruis van Christus nie. 13 Al het hulle hulle laat besny, onderhou hulle self nie die wet van Moses nie, maar hulle wil net hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle kan roem oor wat met julle liggaam gebeur het. 14 Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. 15 Of ‘n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ‘n nuwe mens is. 16 En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel – mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys.
17 Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam.
18 Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees, broers! Amen.
Gee in u studie aan die volgende sake aandag:
1. Wat sou die rede wees waarom Paulus, wanneer hy volgens vers 11 self begin skryf, met groot letters skryf?
2. Paulus skryf in die brief aan die Galasiërs aan die jong gemeentes in Galasië wat dreig om van die ware geloof afvallig te word. Daar was Christene uit die Jodedom wat verkondig het dat Christus se genade alleen nie genoeg is om gered te word nie. Om gered te word, was dit volgens hierdie mense ook nodig om die wet na te kom. Dit was volgens hulle nodig dat Christene uit die heidendom eers deur die besnydenis by die Joodse volg ingelyf word. Het die vals leraars volgens 12a slegs ‘n flou poging aangewend om gelowiges te oortuig dat hulle hul moes laat besny?
3. In vers 12 word die ware motiewe van die vals leraars openbaar. Twee motiewe word genoem. Wat is die twee motiewe?
4. In vers 13a word die skynheiligheid van die leraars beklemtoon. Motiveer uit vers 13a.
5. In vers 13b word ‘n verdere motief van die vals leraars beklemtoon. Motiveer.
6. Dit is uiters eienaardig dat Paulus kan sê dat hy in ‘n kruis kan roem. Motiveer. (Wenk: Waarvoor is kruise gebruik?)
7. Paulus maak in vers 14 in “oormaat” duidelik na Wie se kruis hy verwys. Motiveer uit vers 14.
8. Paulus kan in die kruis roem, want die kruis van ons Here Jesus Christus het volgens vers 14 radikale gevolge vir sy lewe ingehou. Wat was hierdie gevolge volgens vers 14?
9. Volgens vers 15 is daar sekere dinge wat, ná die kruisiging van ons Here Jesus Christus, glad nie meer van belang is nie – al was dit volgens die Ou Testament voorheen van uiterste belang. Wat is dit wat volgens vers 15 nie meer van belang is nie?
10. Wat is wel ná die kruisiging van ons Here Jesus Christus volgens vers 15 van belang?