RLees Psalm 126 deur soos hier onder weergegee.
Psalm 126
1 ‘n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion verander het,
was dit vir ons soos ‘n droom.
2 Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”
3 Die Here hét groot dinge aan ons gedoen;
ons was bly.
4 Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5 Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.
6 Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.
Gee aandag aan die volgende sake:
1. In vers 1 van Psalm 126 verwys die digter waarskynlik na die gebeure toe Israel uit die ballingskap na hulle eie land kon terug keer. Hulle sou die wonderlike gebeure kon toeskryf aan die goedgesindheid van die koning onder wie se heerskappy hulle verkeer het. Hulle het egter baie goed geweet wie hulle lot verander het. Verduidelik uit vers 1.
2. Die digter onthou baie goed hoe die volk self hierdie lotsverandering ervaar het. Dit was amper vir hulle of dit nie regtig gebeur het nie. Verduidelik uit vers 1.
3. Israel was uitbundig bly toe hulle lot verander is. Motiveer uit vers 2a.
4. Nie net Israel het, toe hulle na hulle land kon terugkeer, besef wat die Here gedoen het nie. Motiveer uit vers 2b.
5. Die reaksie van die nasies (soos in vers 2b genoem) het God se grootheid by Israel ingeskerp. Verduidelik uit vers 3.
6. Dit wat die Here gedoen het, gee die digter vrymoedigheid om te bid en dan nogal te bid vir oorvloed. Motiveer uit vers 4.
7. Volgens verse 5-6 gebruik die digter beelde uit die landbou om die hoop wat hy vir die toekoms het, duidelik te maak. Hoekom sou ‘n boer met trane saai en loop en huil terwyl hy die saaisak dra?
8. Wat sou iemand wat huil terwyl hy saai, eintlik maar wil doen?
9. Hoekom behoort ‘n boer vir wie dit (vanweë bv. droogte) lyk of dit nie die moeite werd is om te saai nie, tog maar voortgaan om te saai?
10. Waarop sal die gelowiges wat in moeilike omstandighede op die Here vertrou en voortgaan om te doen wat hulle moet doen, se vertroue volgens vers 5 uitloop?