Lees Psalm 51 soos hier onder weergegee:
Psalm 51
1 Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid, na aanleiding daarvan 2 dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba.
3 Wees my genadig, o God, in u troue liefde,
wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!
4 Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5 Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6 Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7 Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.
8 Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9 Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10 Laat my weer blydskap en vreugde belewe.
U het my verbrysel; laat my weer jubel.
11 Moet tog nie ag slaan op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12 Skep vir my ‘n rein hart, o God,
vernuwe my gees en maak my standvastig.
13 Moet my tog nie van U af wegdryf
en u Heilige Gees van my af wegneem nie!
14 Laat my weer die blydskap ervaar
van iemand wat deur U verlos is,
laat my U weer met toewyding dien.
15 Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag;
dat die sondaars hulle tot U sal bekeer.
16 Red my van ondergang, o God, my Redder,
dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.
17 Here, gee my die woorde
om u lof te verkondig.
18 ‘n Offer vra U nie,
anders sou ek dit bring;
‘n brandoffer wil U nie hê nie.
19 Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging:
U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.
20 Laat Sion u liefde en u goedheid ondervind:
herbou tog die mure van Jerusalem.
21 Dan sal die offers wat voorgeskryf is,
weer vir U aanneemlik wees:
offerdiere wat heeltemal verbrand word.
Dan sal hulle weer bulle op u altare offer.
Gee in die Bybelstudie aan die volgende sake aandag:
- Lees 2 Sameul 12 in verband met vers 1-2.
- Waarop het Dawid volgens vers 3 hom spesifiek beroep toe hy tot besef van sy oortredings kom?
- Noem uit verse 3-4 drie dinge wat Dawid wil hê God met sy oortredings moet doen?
- Dawid het volgens verse 5-7 geen onduidelikheid oor die verskrikking van sy sonde nie. Verduidelik uit die verse.
- Wat sou Dawid bedoel as hy in vers 7 sê dat hy al skuldig was toe hy gebore is en met sonde belaai was toe sy moeder swanger geword het?
- Vir Dawid is dit uiters belangrik om presies volgens God se wil te leef. Verduidelik uit vers 8.
- Wat begeer Dawid volgens verse 9-10 van die Here?
- Volgens verse 11 en 13 is daar sekere dinge wat Dawid (onder die besef van sy oortredings) met uiterste erns wil voorkom. Verduidelik uit die twee verse.
- Volgens verse 12 en 14 is daar sekere dinge wat Dawid met groot erns van die Here begeer. Verduidelik uit die twee verse.
- Waartoe behoort dit volgens verse 15-19 te lei wanneer gelowiges besef dat die Here hulle vergewe het?