Lees Johannes 1:43-51 soos hier onder weergegee deur.
Johannes 1:43-51
43 Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”
44 Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.
45 Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”
46 Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
“Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.
47 Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ‘n ware Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie.”
48 Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”
“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”
49 Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”
50 Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”
51 Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”
Geen aan die volgende sake aandag:
1. Filippus toon duidelike insig kort na hy deur Jesus geroep is. Verduidelik uit vers 43-45.
2. Dit is duidelik dat Filippus die OT goed geken het. Motiveer uit vers 45.
3. Filippus kon nie die goeie nuus dat hy die Een waarvan daar in die OT geskryf staan, vir homself hou nie. Motiveer uit vers 45.
4. Natanael is oortuig hy het genoeg rede het om krities te wees oor wat Filippus sê. Motiveer uit vers 46.
5. Filippus kan sy verkondiging net op een manier ondersteun. Verduidelik uit vers 46.
6. Dit is nogal ironies dat Natanael ‘n Israeliet (die nageslag van Jakob dus) sonder bedrog is. Motiveer.
7. Natanael bely Jesus met ‘n belydenis vol insig (v. 49). Wat het aanleiding gegee dat hy hierdie insig kry in Wie Jesus is (vgl. v.48).
8. Watter groter dinge sal Natanael sien en na watter gebeure in Jakob (Natanael se voorvader) se lewe verwys Jesus volgens vers 51?