Skip to content
Menu

Onderaan is die inleiding wat  met die begin van al die Bybelstudies  behandel sal word.

Die Bybelstudietye en plekke is soos volg:

Donderdag

Bybelstudiegroepe

  • 08:30  Groep 1: In die Konsistorie
  • 09:30  Groep by Nasarethhuis
  • 10:15  Groep 2: In die Konsistorie
  • 18:30  Groep 3 by die Pastorie
  • 19:30 Kerkjeugaksie vir jongmense tot ongeveer 30 jaar: in die Pastorie.

Almal is hartlik welkom

Groete,

Gerben

BYBELSTUDIE

Wat?

Bybelstudie hou in dat ons ‘n studie maak van die Woord van God.  Twee sake volg hieruit.  In die eerste plek:  Bybelstudie is studie.  Studie beteken om te delf, te soek, na te vors (vergelyk die optrede van die Here Jesus in Lukas 2:46 en 47 – sit, luister, uitvra, hoor, verstaan, antwoord).  Bybelstudie beteken verder dat ons in die Bybel, die Woord van God, delf.  Ons bestudeer die manier waarop God Homself in die geskiedenis bekend gemaak het.  Ons kom onder die indruk van Wie die Here is, in watter verhouding ons met Hom leef, wat Hy vir ons belowe en ook wat Hy van ons verwag.

Doel?

Die Bybel is vir die sondige mens moeilik om te verstaan.  Nie omdat die Bybel op sigself moeilik of onduidelik is nie; inteendeel, die Bybel is volkome duidelik.  Die probleem lê by ons wat as gevolg van sonde blind is en daarom onduidelikheid oor die duidelike Bybel het.  Die mikpunt van Bybelstudie is om van die blindheid ontslae te raak en duidelikheid te kry oor dit wat die Woord sê.  Uiteraard is dit ʼn gawe van God om siende oë te hê.  Hierdie gawe is egter ook ʼn opgawe.  Die Here gee vir ons die vermoë om sy Woord te kan verstaan.  Sy opdrag is:  lees My Woord, en leer om dit te verstaan!

Hoe?

Daar bestaan hoofsaaklik twee metodes waarop daar sinvol Bybelstudie gedoen kan word:  vers-vir-vers studie en tematiese studie.  Vers-vir-vers studie kom daarop neer om ‘n Bybelboek van begin tot end te bestudeer.  Tematiese studie bring ‘n mens by onderwerpe uit aan die hand waarvan ‘n dwarsdeursnee deur die Bybel gemaak word, byvoorbeeld aktuele kwessies, dwalings, temas uit die geloofsbelydenis (soos uitverkiesing, wedergeboorte, heiligmaking).  Vir een ding moet gewaak word:  dat ons die Bybel nie as ‘n soort antwoord-masjien hanteer wat selektief aangewend word om persoonlike vraagstukke op te los nie.  Die Skrif is die Woord, wat oor alles in die lewe gesaghebbend praat; nie net die ant-Woord wat slegs fokus op menslike vrae nie.

‘n Metode

Gebed

Bid dat die Gees van God ons verstand sal oopmaak en verhelder om die Woord te verstaan.  Bid ook dat ons dit wat ons uit die Woord hoor, in geloof ons eie sal maak.

Aanvoorwerk

  • Stel vas watter Bybelboek bestudeer gaan word.  Sorg dat die tipe stowwe (histories, wette, wysheid, profesie, apokalips, evangelies, briewe) afwisselend behandel word.  Met verloop van tyd behoort die hele Woord onder die soeklig te kom.
  • Voordat met formele Bybelstudie begin word, bespreek die agtergrond van die betrokke Bybelboek.  Kry ‘n algemene oorsig.  Maak ‘n sinvolle indeling met die oog op verdere studie.  “Vry onderwerpe” kan eventueel reeds vasgestel word wat aanvullend kan dien tot die teks-vir-teks studie.
  • ‘n Vasgestelde werkprogram is wesenlik – dit sal elke goeie student kan bevestig.

Persoonlike vooraf studie

Lees die Bybelhoofstuk/gedeelte wat bespreek gaan word aandagtig deur.

  • Maak seker dat jy verstaan wat jy lees.
  • Gebruik verskillende Bybelvertalings, indien moontlik ook ander tale.  Die grondtekste is uiteraard die ideaal.
  • Vir onduidelikhede in die teks, gebruik die Bybel met verklarende aantekeninge, die Bybel met teksverwysings, die Bybel in Praktyk en/of ‘n Konkordansie.
  • Vir verdere studie, gebruik kommentare, handleidings, handboeke by die Bybel, atlasse.
  • Skryf die bevindings van jou vooraf studie neer asook die vrae wat ontstaan het waarop jy geen antwoorde kon kry nie.  Let wel:  iemand wat nie vra nie, is iemand wat oningelig bly.  Vrae vra is die kern van studie.    

Verstaan jy wat jy lees?

Deur die volgende vrae aan die teks te stel, kan jy beter begrip kry vir wat jy lees:

  • Wat sê die HERE hier oor Homself?
  • Deur wie en vir wie sê Hy dit?
  • Hoekom sê die HERE dit?
  • Wat is die omstandighede (konteks) waarbinne dit staan?
  • Watter norme lê die HERE in hierdie Skrifdeel neer?
  • Hoe bring ons die norm oor vanaf die verlede na die hede?  Oppas vir Biblisisme, dit is om eenvoudige is-gelyk-aan tekens te plaas tussen toe en nou.
  • Hoe raak dit wat hier staan ons konkreet in ons bestaan?