2 Samuel 23:1-7
DIE GESKREWE WOORD VAN GOD
1. Die ontstaan van die Woord
In die Bybel is God self aan die Woord. Die Woord van die Here is op ‘n besondere manier op skrif gestel. Geïnspireer deur die Heilige Gees het God dit deur mense laat opskrywe. Petrus skryf daaroor in sy brief – ‘Deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.’ (2 Petrus 1:21) Ook koning Dawid getuig dat die Here so deur hom gewerk het – ‘Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe.’ (2 Samuel 23:2) Die Griekse woord vir Gees beteken asem. Die Here het hierdie mense in besit geneem en sy Woord deur hulle geasem.
2. Die krag van die Woord
In die tyd wat Jesus Christus op die aarde was, maak Hy aan ons die krag van die Woord bekend. Dink maar net aan die gedeelte oor die versoeking van die Here deur die duiwel. Elke keer was die antwoord van ons Here Jesus: ‘Daar staan geskrywe…’ en dan haal Hy aan uit die Ou Testament. Dit is vir Hom die einde van alle teëspraak. Ook het Hy gedurig verklaar dat die Skrif in Hom vervul sal word. Hy bemoedig die apostels met die krag van die Woord – ‘Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vaer in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ (Johannes 14:25,26)