Skip to content
Menu

Lees: 1 TIMOTHEUS 6:3-10,17-21; LUKAS 12:13-21

O TIMOTHEUS, BEWAAR JOU PAND!

Ek gaan op reis en ek vat saam. Dit laat jou gedagtes
teruggaan na die speletjie uit jou kinderdae. Bring jy dit in
verband met jou lewenspad dan sit dit jou nogal aan die
dink. Wat is in jou lewe die belangrikste? Wat het
ewigheidswaarde? Wat maak jy op jou lewenspad
bymekaar? Hoekom werk jy; spaar jy geld vir jou oudag?
Hieroor skryf Paulus vir Timotheus. Ons het immers niks
in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit
wegneem nie. Doen op jou lewenspad dit wat goed is in
die oë van die Here uit dankbaarheid. Sodoende sal jy vir
jou ‘n skat opbou as goeie fondament vir die toekoms.

DIE WARE RYKDOM

Wat maak jou ryk? In vers 6 staan – ‘Wat wel ‘n groot
wins is, is vroomheid wat met tevredenheid
gepaardgaan.’ Die geheim van hierdie vroomheid lees
ons in 1 Timotheus 3:16. Die geheim van die vroomheid is
Jesus Christus. Nou lees ons dat hierdie vroomheid met
tevredenheid gepaardgaan. In die Griekse filosofie kom
ons die begrip tevredenheid (autarkia) tee. Dit was vir
hulle ‘n belangrike beginsel. Dit hou volgens hulle in dat
iemand tevrede moet wees deurdat sy lewensgeluk nie
afhang van besit of rykdom nie. Hierdie tevredenheid
kan bereik word deur streng selfdissipline.
Christene moet tevrede wees met hulle
lewensomstandighede, soos God dit vir hulle gee. Hulle
lewensgeluk soek hulle nie in hulleself nie, maar hulle
kry dit in die Here. Hulle tevredenheid is in die hemel
geanker en nie in hulle aardse eiendomme nie. Hierdie
beginsel is ook kragtig deur Jesus in die bergrede
verwoord. Dit is Hy wat gesê het dat jy jou nie oor kos en
klere moet bekommer nie. Die hemelse Vader weet wat
ons nodig het. As gelowige mag ons God dank dat Hy vir
ons die nodige gee om te leef.

DIE GEVAAR VAN GELDGIERIGHEID

Hier kom ons by ‘n groot gevaar. Dit gaan nie hier oor
mense wat ryk is nie. Dit gaan oor mense wat leef
daarvoor om ryk te word. Wat net meer en meer geld wil
hê. By hulle is daar van tevredenheid nie sprake nie.
Volgens Paulus stel hulle hulleself bloot aan die verleiding
van rykdom (vers 9). Hy skryf: ‘Want geldgierigheid is ‘n
wortel van alle kwaad.’ Hierdeur het mense hulle geloof
verloor. Hulle het net aan die geloof vasgehou, solank dit
vir hulle winsgewend was. Die gevaar is dat jy jou hoop
en vertroue op geld plaas en nie op die Here nie. Dit gaan
oor die wending van jou hart, dit waarvoor jy leef. Die
gevaar is dat jou fokus op die aarde vasgevang is en dat jy
blind is vir die dinge van die Here.

WARE RYKDOM HET EWIGHEIDSWAARDE

In vers 17-19 verskuif die fokus. Hier gaan dit nou oor
mense wat ryk is. Jy is ryk as jy elke maand meer ontvang
as wat jy nodig het. Die rykes moenie hulle hoop op die
onsekerheid van hulle rykdom plaas nie. Hemelse skatte
moet vergader word. Dit wat deur mot en roes nie
verniel nie. Dan is jy ryk aan goeie dade. Dit is werke wat
jy uit dankbaarheid teenoor die Here doen. Nie op basis
van jou eie krag nie, maar deur die genade van die Here
is jy daartoe in staat. Nie om iets te verdien nie, maar om
dankbaar te wees. Hierdie werke uit dankbaarheid behou
hulle waarde.

GESPREKSPUNTE

  1. Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Hoe
    is dit aktueel in ons tyd?
  2. Wat is die pand wat jy van die Here ontvang en
    hoe bewaar jy dit?
  3. Wat is die belangrikste in jou lewe? Waarvoor
    leef jy?