Sagaria 1:1-17
“Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion.”
LAAT U KONINKRYK KOM
Twintig jaar gelede het ‘n klomp Jode uit ballingskap teruggekeer. Vol vuur en vlam om Jerusalem en die tempel weer te herstel. Maar nou na twintig jaar het alles nie verloop soos wat hulle gedink het nie. Dit lyk asof God se beloftes van herstel, geen uitwerking gehad het nie. Waar is God? Waar is sy Koninkryk? In die eerste naggesig gee die Here antwoord hierop.
Die verslag van die ruiters
‘Daar het ‘n man op ‘n bruin perd gesit. Hy was tussen die mirtestruike in ‘n diep kloof, en agter hom was ruiters op bruin en vos en wit perde.’ So begin die eerste naggesig van Sagaria. Die ruiters is verkenners van die Here. Hulle opdrag is duidelik – hulle moet oor die aarde gaan en rapporteer oor hoe die situasie is. Hier al moet die Israeliete hoor. God het nie vergeet nie. Met hulle terugkoms lewer hulle rapport aan die Engel van die Here. Dit is die Seun van God uit die Ou Testament. Die Seun van God wat nog nie vlees geword het nie. Dit is Hy wat die ruiters uitstuur en aan Hom rapporteer hulle. Die rapport van die ruiters: ‘Ons het die wêreld deurkruis, en die hele wêreld is rustig en stil.’ Die aanvoerder van die hemelse ruiters is nie hieroor gelukkig nie. Die rus op die aarde is ‘n verkeerde rus.
Die gebed van die Engel
Verkeerde rus. Nou wat sal dit beteken? Dit beteken dat die Israeliete juis beweging verwag het. Hulle soek ingryping deur die Here van die leërskare. Daarom is die berig van rus nie goeie nuus nie. Die ruiters het ‘n dodelike rus gesien. Dit hou weinig of geen hoop vir die herstel van Juda en Jerusalem in nie. Hierop antwoord die Engel van die Here nou. Dit bring Hom by gebed. Hy praat nie met die ruiters nie, maar Hy praat met God. “Here, Almagtige, hoe lank gaan dit nog duur voordat U U weer oor Jerusalem en die stede van Juda ontferm? U toorn rus nou al sewentig jaar op hulle” Ons hoor die pleidooi van ons hemelse Advokaat. Hy tree vir die Israeliete in wat swaarkry. Here, hoe lank nog? Ons saak, is ook Syne! Hy veg, Hy bid vir sy kerk, vir Jerusalem en die stede van Juda. Laat U Koninkryk kom. Daarvoor is beweging nodig. In hierdie tyd wat soveel dinge beweeg, moet ons na God toe beweeg. Losser van die sonde en vaster aan God.
Die antwoord van die Here
Die Here hou alle dinge in sy hand en Hy sal sy beloftes vervul. In die slot van die naggesig sien ons die antwoord van die Here op die gebed van die Engel van die Here. ‘Roep en sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion.’ Terwyl die aarde in rus is, storm dit in die hemel. Nie ‘n storm van onrus nie, maar ‘n storm van groot ywer, van groot liefde. Met jaloerse liefde waak Hy met groot ywer oor sy volk.
Daarom is sy toorn oor die heiden nasies so groot. As die wêreld in beroering gebring word, soos nou, dan besef ons dit gebeur in diens van die koninkryk wat moet kom. Die antwoord van die Here bring ons op ons knieë. In ons omstandighede bid ons opreg: Laat U Koninkryk kom!
Gesprekspunte
- Hoe ervaar jy die liefde van God in jou lewe?
- Wat beteken dit vir jou dat Jesus Christus vir jou as Voorspraak in die hemel optree? Dat Hy jou by die Vader in gebed voorgaan?
- Watter plek het gebed in jou geloofspraktyk?
Ds. Gerben Meijer