Skip to content
Menu

Psalm 127

‘Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet — net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!.’

DIE MENS SE LEWE VOOR DIE HERE

Psalm 127 gaan oor ons lewe hier op die aarde. Dit gaan oor dit waarmee ons besig is. Dit is ‘n feit – ons is besig. Vroeg in die oggend staan jy op, en as jy weer sien is die dag verby. In Psalm 127 word ons herinner, dat al hierdie dinge nutteloos is sonder die Here se seën. Daarsonder is dit alles tevergeefs. Maar is ons besig met die seën van die Here, dan is dit verseker nie tevergeefs nie.

Doelloos goddeloos

Wat is nou die verskil tussen ’n christen, en iemand wat die Here nie ken nie? Wat is die verskil tussen iets wat so iemand doen en dit wat jy doen? Kan iemand wat die Here nie ken nie, goeie werke doen? Daar is tog heelwat mense op die wêreld wat goeie goed vir ander mense doen? Is dit dan nie goeie werke nie? In Psalm 127 kry ons duidelikheid hieroor. Sonder die Here is alles tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet… Baie ongelowiges het ’n goeie werketiek. Hulle werk hard. Deurdat hulle hard werk verdien hulle baie. Het hulle genoeg van om te leef hier op die aarde. Hulle bou die pragtigste huise. Leef in weelde. Maar sonder die Here is dit alles tevergeefs. Dit beteken alles niks nie. Met niks word jy gebore nie, en die doderyk gaan jy tegemoet sonder jou aardse besittings. As jy dit nie tot eer van die Here, die Skepper en Almagtige God doen nie, dan mis jy die punt. Dan mis jy as mens jou doel hier op die aarde. In Spreuke 16:4 staan – ‘Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.’

Rustig gelowig

Vir ’n gelowige is dit anders. Ons staan ook vroeg op in die oggend, ons werk ook hard. Maar ons werk is nie tevergeefs nie, want ons doen dit vir die Here. Dit is nie omdat jy beter werk as iemand wat nie glo nie. Nie omdat jou werke so goed is nie, maar omdat die Here so goed is. Daar staan in die psalm: ‘net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap’. Die mens kan met sy werke nie die seën van die Here verdien nie. Die Here gee dit vir sy kinders, selfs terwyl hulle rus. Hierdie God gee vir ons rus in hierdie lewe. Dan is dit alles nie meer ’n gejaag na wind nie, maar ’n lewe van dankbaarheid teenoor ons Skepper. Gelowiges kan in die moeilikste omstandighede in rus in die aand gaan slaap, want ons weet in wie se hand ons is.

Gesprekspunte

  1. Ervaar jy as kind van die Here hierdie rus in jou lewe?
  2. Hoe kan jy die Here, konkreet in die dinge waarmee jy elke dag besig is, uit dankbaarheid dien?

Ds. Gerben Meijer