Markus 1:16-39
‘Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag, en nie soos die skrifkenners nie.’
JESUS CHRISTUS MAAK JOU VRY
Die evangelie van Markus is die kortste evangelie. Dit het wel ‘n duidelike doel: Bekend maak wie Jesus is. Die sentrale vraag in die evangelie is: Wie is Hy? Vir ons is dit aktueel: Wie is Hy vir ons vandag? Hy is die Woord, die openbaring van God. Hy maak mense vry. Dit weerklink in die oproep aan sy dissipels: Kom, volg My. Christus verkondig die evangelie. Hy bring mense op die pad van redding.
Die inhoud van sy oproep
As ons na die Woorde van Jesus luister, moet ons besef wat gebeur. Hy wat aan die woord is, is die Woord van God. Die woorde wat ons hier lees is lewende woorde. Jesus Christus praat met ons. Dit bring ons diep onder die indruk, want as Hy praat, gebeur daar iets. Sy evangelie is die reddende krag van God (Rom. 1:16). Deur Hom is die drie-enige God lewensveranderend in ons besig. Jesus Christus maak ons vry. Dit is in die oproep – ‘Volg My’ – ingesluit. Dan word jou lewe nie geleef nie, maar leef jy.
Die gesag van sy oproep
Op meer plekke in die Markus evangelie gaan dit oor die navolging van Christus. In vers 17 word vissers geroep om vissers van mense te word. In ‘n oomblik verander hulle lewens radikaal. In Markus 2:14 word die tollenaar Levi geroep en ook hy volg direk vir Jesus. Ons soek na ‘n verklaring vir hierdie onmiddellike gehoorsaamheid. Die antwoord is Jesus Christus self. Jesus roep op tot navolging, nie as leraar en voorbeeld nie, maar as die Christus, die Seun van God. Hierdie gebeurtenisse getuig van die onvoorwaardelike outoriteit en gesag van Jesus. In Markus 1:22 hoor die mense die gesag waarmee Hy praat – ‘Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag.’ In Markus 8:34 praat Jesus oor hoe ons Hom volg. Dit beteken dat jy jouself verloën, jou kruis opneem en Hom volg. Ons hoor die gesagvolle oproep van Christus om Hom onvoorwaardelik na te volg.
Die uitwerking van sy oproep
Jesus maak jou vry. Die magte van die wêreld is in jou lewe nie bepalend nie, maar die koninkryk van God. Leef hierdie vryheid uit. Ervaar die genade van die Here. As jy in die vryheid van navolging leef, dan word jy deel van die verkondiging van die evangelie vir die wêreld. Jesus gaan nie meer van stad tot stad om te preek nie, nou gebruik Hy sy volgers as instrumente in sy hande.
Gesprekspunte
- Wat beteken dit vir jou om ‘n navolger van Jesus Christus te wees?
- Is ons gemeente ‘n gemeenskap van vissers van mense?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com